Die gebruik van kameras as parkeerhulp op voertuie is geen nuutjie nie, maar nou kombineer Land Rover kameras aan die voorkant van die voertuig met voorruit-projeksie sodat jy grondoppervlakte direk vóór jou as’t ware "regdeur" die enjinkap kan bekyk!

Hierdie tegnologie kan teruggevoer word na vegvlieëniers se helms waar sekere inligting op 'n skerm in die helm geprojekteer word sodat die vlieënier nie hoef af te kyk na sy instrumente nie. Hierdie projeksie-beginsel van voorruitvertoon het reeds inslag gevind by etlike van die meer luukse voertuigmodelle.

In Land Rover se geval neem die kameras voor in die sierrooster van die voertuig die beelde af en stuur dit na 'n projektor wat dit op die voorruit vertoon. Die visuele gevolg vir die bestuurder is dat jy nou sommer "regdeur" die enjinklap én enjin kyk na die padoppervlakte waaroor jy ry.

Nuttige toepassing
Die gevolg is 'n uiters nuttige toepassing, veral op 'n onbekende en slegte terrein waar jy dan presies kan "sien" hóé die wiele hindernisse hanteer. Die "deursigtige" enjinkap sorg dat presies dít wat die kamaras afneem in jou sigveld op die voorruit vertoon word.

Hierdie stelsel is vir die eerste keer in 'n konsep-voertuig, die Discovery Vision, op die internasionale motorskou in New York vertoon en nóg méér moontlikhede wat die kombinasie van kameras en voorruitvertoon insluit, is wel moontlik.

As 'n nuwe 4x4 vir jou op die horison wink, en jy wil wegdoen met daardie aardige gevoel op die maag as jy nie kan sien waar jou voorwiele trap nie, oorweeg gerus die Discovery Vision!