Die trekker is deur ’n paneel bedryfspesialiste, ontwerpjoernaliste en kritici as hul topontwerp gekies vir dié gesogte prys uit aansoeke van die wêreld se topvervaardigers en bedryfs- en grafiese ontwerp-instellings van 47 lande. Die eerbewys word gegee aan die vernuwendste en nuutste nywerheids- en grafiese ontwerpe. Die kriteria behels die gehalte van ontwerp in die hoogste vorm, funksie en estetika-standaard buite die gewone verbruikersgoedere en grafika.

Dié metaanaagedrewe konseptrekker is ontwerp om ’n nuwe aanslag tot trekkers te gee, met die kap, voorkant en agterste modderskerms en brandstoftenk wat ’n vloeiende, stylvolle voorkoms het. Die bestuurder het ’n uitsig van 360 grade en die vensterarea is 20% groter. Die swaaiglaskoepeldak, met ’n geïntegreerde presisiebestuurontvanger, bied ook die eerste volledige panoramiese ontwerp, iets nuuts vir die landbou.

New Holland se konseptrekker bied die wydste uitsig vir die bestuurder wat tans beskikbaar is, en die metaanenjin bied dieselfde krag en wringkrag as sy diesel-eweknie. Foto: Verskaf

Die trekker gebruik doeltreffende verbrandingstegnologie wat ontwerp is vir een van CNH se handelsmerke, FPT Industrial, se natuurlike gas-trekkragtegnologie. Dié sessilinder-NEF-metaanenjin lewer dieselfde krag en wringkrag as sy diesel-eweknie, maar bespaar 30% in loopkoste en maak ongeveer 50% minder geraas.

In werkstoestande laat die trekker 10% minder koolsuurgas vry, en die algehele uitlatings is 80% minder as sy diesel-eweknie. Daarby kan plaasprodukte, soos graanreste en ander produksie-afval, gebruik word om biometaan te vervaardig, wat koolstofvrylatings byna ten volle uitskakel.

Die trekker skakel in by New Holland se toekomsiening van volhoubare produksie omdat dit aangedryf sal word deur energie wat van die grond en afvalprodukte vervaardig word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.