Vir mnr. Dalton Gibbs, streeksbestuurder van die suidelike streek van die Stad Kaapstad se departement van natuurbewaring, is hommeltuie bloot ’n vorm van tegnologie wat hy kan inspan om sy werk doeltreffender aan te pak.

Hy was ’n spreker op die hommeltuigkonferensie wat by Elsenburg deur die Wes-Kaapse departement van landbou met die samewerking van die trust vir bedreigde natuurlewe (EWT) aangebied is.

“Die hommeltuig self beteken nie veel nie. Dit hang af hoe ek dit inspan en hoe dit by my ander infrastruktuur en kapasiteit inpas. Natuurbewaring staan op drie pilare, naamlik die natuur, die infrastruktuur en die mense. Hierdie drie faktore het wisselwerking met mekaar en die wyse waarop die wisselwerking plaasvind en die doel wat ons as bewaarders voor oë het, bepaal hoe en watter beplanning en bestuur ons moet toepas.”

Hy sê hommeltuie kan baie duur kan wees en die programme wat gebruik moet word om die kunsmatige intelligensie te benut, is net so duur. Die besluit of die belegging gaan dividende lewer, moet dus noukeurig gemaak word.

Sowat 450 bobbejane kom in die Skeireiland voor en hulle moet deur die stad se departement van natuurbewaring bestuur word. Dit is moeilik omdat die bobbejane slim, opportunisties en nie sku vir mense is nie. “Die stad het ’n aktiewe program om die bobbejane weg te hou van bewoonde gebiede.

Virtuele heinings

“ ’n Strategie wat baie goed werk, is virtuele heinings. Dit is ’n reeks weerbestande bokse wat met radio-golfontvangers op sekere intervalle in ’n virtuele lyn op ’n strategiese plek in die veld installeer word. Die doel is om die bobbejane aan die veld se kant van hierdie virtuele heining te hou en kontak met mense in die bewoonde gebiede te voorkom.”

Volgens Gibbs is daar in elke trop ’n paar bobbejane met halsbande aan wat radiogolwe uitstuur. Sodra die ontvangers in die bokse hierdie golwe optel, word donderflitse, harde knalgeluide, geluide van roofdiere of ligflitse uit die bokse afgestuur. Dit hou die bobbejane aan die regte kant van dié heining. Teen styl hellings, waar dit onmoontlik is om hierdie bokse te installeer, kan die bobbejane deur hierdie virtuele grens breek omdat daar niks is wat hulle verwilder nie. “In hierdie geval kan hommeltuie vir ons waardevol wees. Bobbejane hou nie van hommeltuie nie. Hommeltuie sal hulle doeltreffend teen hierdie kranse verjaag en die virtuele heinings baie doeltreffender maak.”

Gibbs voorspel dat hommeltuie voortaan ’n belangrike rol kan speel by die identifikasies van plantspesies. “Dit kan die bepaling van kontrakte vir die verwydering van indringerplante baie akkurater maak en sal ook die monitering van inheemse spesies doeltreffender maak. Teoreties is die moontlikhede met ’n hommeltuig oneindig, maar daar is steeds baie kwessies in die praktyk. Die mate waartoe hierdie gaping vernou word, gaan afhang van die doeltreffendheid en bekostigbaarheid van die ontwikkeling van programme en die hommeltuie self.”

dalton gibbs
Mnr. Dalton Gibbs van die Stad Kaapstad. Foto: Johan van der Merwe