Dit was prof. Marcos Fava Neves, internasionale kenner van landbousake en hoogleraar in beplanning en strategie aan die sakeskool van die universiteit van São Paulo in Brasilië, se boodskap op Bayer en Dekalb se Create-konferensie op Secunda.

Baie boere is bekommerd oor geldsake. “Besluit of jou besigheid goed is om in te wees. Ek dink so, want ons moet kos vir ’n groeiende bevolking produseer. Bees-, pluimvee- en varkboerdery het almal graan nodig en hierdie markte groei. Graanproduksie is dus belangrik vir die landbou se toekoms; trouens daar is ’n goeie toekoms vir die hele landbou,” het hy gesê.

Teen watter prys kom hierdie uitdaging? Die kommoditeite wat boere produseer, se pryse wissel effens, maar bly eintlik staties. Hoewel die markte groei, sal boere dus vorentoe teen die huidige pryse produseer.

Boere moet ná die konferensie, wat deur ’n soortgelyke aanbieding op Bothaville gevolg word, plaas toe gaan en planne beraam oor hoe hulle deel van die landboutoekoms gaan wees. Hulle moet dus anders oor die skep van waardes en bou van marges dink.

Hommeltuie en balkspuite

Neves het vier gedagtes oor veranderings bespreek.

Die eerste is digitale en datategnologie. Gebruik nuwe tegnologie. Daar is byvoorbeeld reeds ’n hommeltuig wat 150 liter chemikalieë kan dra om lande doeltreffender te bespuit, asook balkspuite wat slegs onkruide doodspuit en dus nie ’n breedwerpige bespuiting doen nie.

Innovasie en differensiasie behels die ontwikkeling van nuwe hulpmiddels en tegnieke in plantteelt waarmee onder meer droogteverdraagsaamheid by kultivars ingebou word. Dit kan besigheid stimuleer.

Deel besighede en kollektiewe aksies, soos Uber wat taxi’s vervang en baie doeltreffend is. Landbou moet ook groter kreatiwiteit toon om aksies vinniger en doeltreffender uit te voer en sodoende marges te bou.

Hy het gesê hy is ’n gereelde besoeker aan Suid-Afrika en merk vinnige vordering in die toepassing van nuwe, gevorder tegnologie op. “Die gaping tussen boere wat tegnologie aanwend en dié wat dit nie doen nie, raak vinnig groter,” het hy bygevoeg.

Mnr. Kyle Tom van die megaboerdery Tom Farms van 8 000 ha in Noord-Indiana, Amerika, het gesê die dust bowl, wat gedurende die 1930’s weens droogtes en verkeerde verbouingsmetodes in Amerika ontstaan het, het die besef van die noodsaaklikheid van vordering met tegnologie werklik laat posvat. Vandag lei nuwe boerderymetodes en genetiese verbetering met byvoorbeeld mieliebasters tot verhoogde opbrengste en produktiwiteit. Biotegnologie het verdere momentum gegee.

“Data-wetenskap is noodsaaklik. Ons versamel baie inligting oor alle aspekte van die boerdery vir ontleding om seker te maak ons hou tred met die ontwikkeling van nuwe tegnologie. Dit haal die raaiwerk uit boerdery,” het hy gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.