Mnr. Frik de Lange van Centurion is die skepper van ’n nuwe toep - Boer soek ’n gras - wat boere help om grassoorte maklik en vining op hul slimfone uit te ken. De Lange het self al die sketse vir die toep gedoen en het ook ’n webwerf geskep met foto’s van die grassoorte en ander belangrike inligting.

De Lange is een van 10 finaliste in Solidariteit Helpende Hand se APPreneurs-kompetisie. Die organisasie het, luidens ’n mediaverklaring, ’n eenvoudige, gebruikersvriendelike platform genaamd APPfabriek geskep met al die toerusting wat nodig is om maklik jou eie toep in enige taal en vir enige doel te ontwikkel.

Die projek maak deel uit van Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum en het ten doel om oud en jonk te leer hoe om ’n toep te bou, onderhou en bemark, en om daardeur ’n ekstra inkomste in te win. Die APPreneurs-kompetisie is geloods om die APPfabriek bekend te stel en daar is prysgeld ter waarde van R100 000 op die spel. Die wenner word op 29 Oktober aangekondig en die APPreneurs se toepassings sal na afloop van die kompetisie op Andriod- en Apple-platforms beskikbaar wees.

Die tien finaliste is:

• Tana Kruger – Tana Kruger Spraakterapie (Port Elizabeth)

• Ronel Erasmus – Kamae Karate Klub (Pretoria)

• Ryno Davel – Appteek (Pretoria)

• Adri de Beer – Oppipad (Sasolburg)

• Frik de Lange – Boer soek ’n gras (Pretoria)

• Madeleine Greeff – Ezio Graad 2 Wiskunde (Pretoria)

• Mauritz Stander – Namakwaland Blommeprag (Somerset-Wes)

• Nico Steyn – Ons geskiedenis (Pretoria)

• Melissa Troskie – Klein Bondeltjie, Groot liefde (Bloemfontein)

• Hardus Vosloo – SA-Helde (Middelburg)

Die handleiding en video’s is gratis beskikbaar op die webblad. ’n Maandelikse fooi, wat jou toegang tot die platform verseker, is betaalbaar. Besoek www.appfabriek.co.za, of kontak Annette Taljaard by 012 644 4390, of stuur ’n e-pos na annette@helpendehand.co.za, vir meer inligting oor die APPfabriek.