Volgens Bloomberg probeer Japan meer buitelanders werf om sy ouerwordende boere by te staan.

Japan se parlement het onlangs ten gunste van wetgewing gestem wat dit makliker sal maak vir arbeiders van ander lande om op plase in die land hande-arbeid te verrig. Dít is ondanks miljoene dollar se beleggings en steun van die Japanse regering vir hoëtegnologie-ontwikkeling in die landbousektor.  

Maatskappye soos Kubota en Panasonic vervaardig robotika, hommeltuie en self-aangedrewe trekkers om produktiwiteit te verhoog. Maar dit kom teen 'n prys, sê Yasuji Kakuzaki (67), 'n tamatieboer van Chiba, oos van Tokyo. 

“Ons het nie die vermoë om die kapitale besteding op geoutomatiseerde produksie te doen nie.”

Hy verwelkom die aanpassing van wetgewing en het reeds vroeër vyf Viëtnamese arbeiders ingevolge vroeëre toegewings oor buitelandse werkers in diens geneem. Tien jaar gelede het hy een huurling uit Viëtnam aangestel toe die plaaswerk vir hom te veel geword het. Dit was onmoontlik om Japanners te kry wat bereid was om vir die minimum loon te werk wat deur die regering vasgestel word. 

Sedertdien het hy sy plasie se grootte tot 0,8 ha (twee akker) uitgebrei. Sy arbeidskoste beloop 10 miljoen jen per jaar en hy verdien sowat 50 miljoen jen uit sy tamatie-oes. 

Een van sy Viëtnamese werkers, Tran Thi My (29), werkdat ses dae per week vir sowat 895 jen per uur. Dit is genoeg dat sy ná drie jaar 'n huis kan koop, iets wat sy eers ná 15 jaar sou regkry as sy in Viëtnam self gewerk het. 

Die Japanse regering verwag om van April vanjaar sowat 7 300 buitelandse werkers in sy landbou- gasvryheids en maatskaplike dienssektore aan te stel. 

Intussen het Panasonic reeds begin werk aan 'n robot wat tamaties kan pluk, maar dié tegnologie sal eers teen 2020 gereed wees.  Die geriefswinkelgroep Seven-Eleven in Japan sal ook volgende jaar sy eerste ten volle geoutomatiseerde slaaiplaas open, wat sowat ses miljard jen gekos het om te bou.

Die Japanse slimtegnologiemark vir landbou sal in die huidige boekjaar na verwagting met 14% tot 14,7 miljard jen groei en in die volgende vyf jaar feitlik verdubbel, sê die Yano-navorsingsinstituut in Tokyo. 

Die Japanse landbousektor het die afgelope dekade 'n merkbare afname in plaaswerkers getoon soos die land se bevolking verouder het. In 2005 was daar 3,3 miljoen mense in dié sektor in diens maar dit het teen 2016 tot 1,9 miljoen gedaal, volgens panasonic.com. Intussen het die persentasie van die bevolking wat ouer as 65 is, van 58% in 2005 tot 65,2% in 2016 gestyg, en dit raak al moeiliker om mense te kry wat bereid is om hande-arbeid te verrig.  

Met dié statistiek in gedagte het Panasonic sy outomatiese tamatieplukker begin ontwikkel. Die robot beweeg op 'n spoor wat tussen die plante gelê is. Dit is toegerus met 'n kamera wat beelde kan herken en die tamaties tussen die blare kan opspoor. Hy kan ook onderskei tussen groen en ryp tamaties en kan geprogrammeer word om dié wat ryp genoeg is, te pluk. Die pluk-aksie word met 'n ringetjie gedoen waardeur die tamatie getrek word en dan van sy stingel afgeknyp word, sonder om aan die vrug self te raak.

Tans pluk die robot een tamatie elke ses sekondes, wat stadiger is as sy menslike eweknie se plukkoers van een tamatie elke twee of drie sekondes.

“Maar onthou die robot kan vir tot tien uur aaneen werk, selfs snags ook, so dit sal hopelik vir boere aanvaarbaar wees,” sê Ryo Toshima, ontwikkelingshoof van die program by Panasonic.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.