Dr. Johann Rupert het aangekondig dat hy oor die volgende vyf jaar R25 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan skenk om die departement van wyn- en wingerdbou tot ’n wêreldklas-departement uit te bou.

Dit vorm deel van die sakeman en US-kanselier se visie om dié universiteit as leier op die gebied van opleiding en navorsing oor wingerd en wyn te vestig.

“ ’n Mens kan nie alles vir almal wees nie. ’n Universiteit kan nie op elke vakgebied die beste wees nie, want daar is nie genoeg kundigheid in die land nie,” het hy Donderdag, 6 Junie, aan ’n klein groepie belanghebbendes in dié bedryf en akademici op sy wynplaas L’Ormarins naby Franschhoek gesê.

Daar word al vier jaar lank oor die inisiatief gepraat en die Instituut vir Wingerd- en Wynkunde (IVO) is sowat twee jaar gelede op die been gebring.

Verskille tussen universiteite
“As ’n mens aan MIT (die Instituut vir Tegnologie in Masachusetts) dink, dink jy beslis nie aan beeldende kunste nie. As jy aan Yale en Stanford dink, dink jy aan sekere vakgebiede. Selfs tussen Cambridge en Oxford is daar verskille. Die een is bekend vir skeikunde en fisika en die ander vir liberal arts”.

“Ons het daaroor besin en besluit die US moet in minstens wingerd- en wynkunde die beste wees. Daar is die Geisenheim Universiteit (in Duitsland) en UC Davis (in Kalifornië) en dit is nonsens dat ons ons beste kundiges aan hulle moet afstaan (Geisenheim én UC Davis is leiers in die wingerd- en wynkunde-veld). Dit moet stopgesit word.”

Rupert sê die R5 miljoen per jaar wat hy oor die volgende vyf jaar gaan skenk, is nie “vir ’n algemene slush fund nie”, maar moet spesifiek vir die uitbouing van wyn- en wingerdbou aangewend word. Die geld kom uit bestuursfooie by Reinet, wat spesifiek geoormerk is vir liefdadigheid.

“Dit is vir my ’n absolute plesier om by dié R5 miljoen te begin, maar kan ons asseblief nou net tot aksie oorgaan,” het Rupert opgemerk.  

'Droom word waar'
Volgens mnr. Jan Boland Coetzee, ’n wynboer wat betrokke was by die samesprekings en die stigting van die IVO, is hierdie die begin van ’n droom. “Die droom se naam is nie hoop nie, maar voortreflikheid; voortreflikheid in die akademie en in mense wat opgelei word. Uiteindelik gaan dit lei tot voortreflikheid in die mark.”

Die IVO is ’n gesamentlike onderneming tussen die US, die wyn- en tafeldruifbedryf (Vinpro, Winetech en Sati) en die Landbounavorsingsraad.

Prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit van agriwetenskappe aan die US, sê tegnologiese vooruitgang gaan oor die verdieping van navorsing sodat die behoeftes van die bedryf en die universiteit bymekaar kom en die hulpbronne in die bedryf (soos laboratoriums) beter aangewend word.

“Daar sal groter stukrag aan navorsing gegee word, met meer gefokusde nagraadse programme en meer internasionale blootstelling, veral wat wingerdkunde betref.”

Prof. Russel Botman, rektor en vise-kanselier van die US, sê die idee is om die uitnemendheid van die wetenskap te gebruik om bedrywe en gemeenskappe te ondersteun. “Ons wil die kundigheid gebruik om ’n verskil te maak in ons gemeenskap en vir ons is die agri-bedrywe die kern daarvan.”