Dit beteken dat boere wat die digitale platform Climate FieldView gebruik, toegang tot hoëresolusiedata van hul gewasse regdeur die groeiseisoen kan kry via Airbus se SPOT 6-, SPOT 7- en Pléiades-satelliete. Die gesondheid van die betrokke gewas kan dus doeltreffend gemonitor word en die boer kan sien of dit nodig is om enigiets te doen om die beste oes te verseker.

Mnr. François Lombard, hoof van sake-inligting by Airbus, sê die dekkingsvermoë van die SPOT-satelliete maak dit moontlik dat kartering vanaf ’n nasionale vlak tot op die individuele plaasgrond gedoen kan word. Die Pléiades-satelliet kan gebruik word om detail in spesifieke gebiede uit te wys.

Mnr. Steve Ward, senior direkteur van geo-ruimtelike en weerdienste by die Klimaatskorporasie, sê die hoë gehalte van die satellietfoto’s wat by die boer se FieldView-rekening geïntegreer word, kan meer volgehoue en waardevolle insigte tot velddata bydra. Hy sê die korporasie wil boere wêreldwyd help om hul produktiwiteit volhoubaar te laat styg deur middel van digitale hulpmiddels.

Die platform word reeds op meer as 60 miljoen ha grond reg oor Amerika, Kanada, Europa en Brasilië ingespan.

Airbus gaan vanjaar aan die Nampo-oesdag op Bothaville deelneem waar hy satelliet gebaseerde geo-intelligensie oplossings vir boerdery en grondbestuur gaan tentoonstel. Verskeie helikopters van die maatskappy sal ook tentoongestel word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.