Die hulpmiddel is ontwikkel deur dr. Anel Engelbrecht, senior wetenskaplike by die departement se navorsingsplaas op Oudtshoorn, en mnr. Arie van Ravenswaay, assistent-direkteur van innovasie, tegnologie-ontwerp en oordrag by die departement.

Dr. Ilse Trautman, hoofdirekteur vir navorsing en tegnologie-ontwikkeling by die departement, sê dié digitale hulpmiddel is ’n belangrike toevoeging tot die bedryf se gereedskapkis. “Die bedryf slag tans van 140 000 tot 160 000 voëls per jaar. Die hulpmiddel, wat op rekenaars en slimfone benut kan word, bereken al die datums wat ’n produsent benodig vir die skuif en slag van volstruise.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het tydens die bekendstelling gesê die Wes-Kaap is die enigste plek ter wêreld met navorsingsgeriewe wat op volstruise konsentreer, en ’n navorsingspan wat deur uitstekende navorsing en innoverende benaderings reageer op die volstruisbedryf se behoeftes.

Volgens Meyer is die volstruisbedryf, wat R900 miljoen werd is met 470 geregistreerde plase en 15 000 werknemers, een van die ekonomies belangrikste bedrywe in die Wes-Kaap, veral die Klein-Karoo.

Die hulpmiddel kan by https://smarttech.elsenburg.com/ostrich-slaughter-planner/ besigtig word.