Stel jou voor ‘n robokopter vlieg oor jou wildsplaas en tel al jou renosters binne minute vir jou. Wanneer die robokopter (drone) weer aan jou voete land, is elke renoster se unieke nommer kant-en-klaar afgelaai op jou rekenaar.

Hierdie is nie meer drome nie. Die Drone Aviation Academy, ‘n bekende Pretoriase maatskappy, het die voortou geneem om hierdie tegnologie in Suid-Afrika op renosters by 'n bekende wildboer te toets.

“Ons het nou tegnologie uniek aan Suid-Afrika se eksotiese wildbedryf ontwikkel om wild vanuit die lug uiters akkuraat te tel met behulp van afstandopname-toerusting”, vertel dr. Gerhard Coetzee, een van die direkteure van die maatskappy.

“Hierdie toerusting stel die wildboer in staat om dag en nag wild te tel deur 'n robokopter oor die plaas te laat vlieg. Vir dié boer wat nie belangstel om 'n robokopter aan te skaf nie, plaas ons enkele sensors verspreid op die plaas, wat die wild op 'n plaas binne minute kan tel.”

Soortgelyke tegnologie is reeds goed bekend aan melkboere, waar beeste gemonitor word. Die nadeel van hierdie sensors is dat hulle net op 'n kort afstand die beeste kan identifiseer.

Mnr. Louis Nel, wat betrokke was by die ontwikkeling van die toerusting vir afstandsensors, meld dat die nuwe tegnologie só ontwikkel is dat diere nou tot 300 meter ver uit die lug geïdentifiseer kan word. “Tewens, ons is vinnig oppad om 'n reikafstand van 1 km te bereik.  Die tegnologie is ontwikkel om gemaklik deur 'n robokopter vervoer te word.”

Tegnologie is ook in die pyplyn om dié sensors só te ontwikkel wat die eienaar sal verwittig sodra 'n dier buite 'n geografiese gebied afdwaal, of geneem word.

(Die naam van die renosterboer en sy plaas is op versoek nie gepubliseer nie, vanweë die risiko’s van stroping.)

* Kontak Drone Aviation Academy vir navrae: Tel. 082 646 2405, of per e-pos by info@droneaviationacademy.co.za.