Schweizer-Reneke het ’n wakker veiligheidsnetwerk. Drie noodgroepe, wat bestaan uit sowat 1 000 lede elk, werk onverpoos om die beleërde Noordwes-dorp van misdaad te bevry. Hul voorkomende plan sluit patrollies te voet, per motorfiets en ander voertuie, asook kameras, vastevlerkvliegtuie en helikopters in.

Sedert 1994 was daar in die gebied 48 plaasaanvalle, waarin 11 boere vermoor is. ’n Jaar gelede, met die ontvoering, verkragting van en moord op mev. Elsa Erasmus van Amalia in die distrik, het die besef posgevat dat haar lewe gered kon word as daar behoorlike nagsigtoerusting was.

Die manne het net ná die reusesoektog na Erasmus koppe bymekaar gesit en besluit daar is ’n behoefte aan ’n toestel om iemand in die stikdonker te kan opspoor, sê mnr. Pierre van de Venter, veiligheidskoördineerder in die distrik Schweizer-Reneke.

“Hoewel vliegtuie en helikopters baie doeltreffend gebruik kan word om na vermiste mense of verdagtes te soek, is daar steeds beperkinge. Dit is gevaarlik om in die nag te vlieg omdat kragpale, drade en hoë voorwerpe noodlottige gevolge kan hê, veral wanneer jy laag moet vlieg om iemand op te spoor.”

Dié voormalige luitenant-kolonel in die weermag en man wat die meeste polisiereserviste in Suid-Afrika opgelei het, sê: “sonder ’n gesukkel en ’n gekerm kon ons ná ’n deeglike ondersoek die regte hommeltuig koop. Ons het aan die drie noodgroepe gesê ons kort geld vir die projek. Altesame R380 000 is ingesamel met 120 mense wat bygedra het.”

Beste kombinasie op die mark

In Julie verlede jaar het die maande lange navorsing begin om die beste aankoop moontlik te maak. “Omdat hommeltuie al hoe doeltreffender word namate tegnologie ontwikkel, het ons letterlik alles beproef en na demonstrasies gekyk. In dié stadium is dit die beste kombinasie van hommeltuig en kamerastelsel wat op die mark beskikbaar is,” sê Van de Venter.

Sedert die nuwe veiligheidskombinasie einde Maart vanjaar in ontvangs geneem is, is dit al twee keer gebruik. “Die kamera is eintlik belangriker as die hommeltuig,” meen hy.

Die Zenmuse XT640 is ’n termiese kamera wat hittebeelde opspoor. “Dit gebruik nie konvensionele nagsigtegnologie nie. Dit is radiometries, wat beteken die gebruiker kan dit verstel vir verskillende temperature en beeldopsies,” sê Van de Venter.

Die radiometriese funksie van die kamera kan spesifiek ingestel word om beelde weer te gee wat binne sekere kriteria val. Vir mense sal dit op ’n temperatuur van tussen 36 °C en 39 °C ingestel wees.

Die stabiele roteeras verseker duidelike kamerabeelde wat nie beïnvloed word deur die beweging van die hommeltuig in winderige toestande nie. Twee mense is nodig om die hommeltuig te beheer. Terwyl een mens die vliegwerk doen, is ’n tweede in beheer van die kamera omdat die kamera onafhanklik van die hommeltuig kan “rondkyk”.

Hierdie funksie is veral doeltreffend omdat die hommeltuig ’n sekere gebied kan fynkam, terwyl die kamera ’n 360 grade-gebied kan dophou terwyl die hommeltuig heen en weer vlieg.

Dit het twee kameras. Een vir die operateur (first-person view), waarmee hy die hommeltuig stuur, en die ander een vir die een wat die voorwerpe dophou. Mnre. Oloff van Niekerk en Reginald Oertel het aangebied om opleiding te ontvang om die hommeltuig en kamera te kan beheer.

Hulle beoog om nog ’n span van twee op te lei sodat in ’n noodsituasie altyd iemand beskikbaar kan wees. Volgens Van Niekerk is die reikafstand van 3,5 km nie ’n beperking nie. “Jy kan die hommeltuig in jou bakkie met die kontroles en videoskerm volg, en dan is daar letterlik geen grense aan die terrein wat verken kan word nie.”

Enige operasie só bespoedig

Met die radiometriese funksie kan die kamera opgestel word om slegs beelde weer te gee wat binne sekere kriteria val. “Wanneer daar na menslike beweging gesoek word, word die kamera geprogrammeer om in te skakel op beelde met ’n temperatuur van 36 °C tot 39 °C.

“Dit bespoedig enige veldtog omdat sekere beelde, soos warm voertuigenjins en klippe, outomaties uitgeskakel word en is veral van die uiterste belang waar ons soek na mense wat ontvoer word, of verdagtes wat wegkruip,” sê Van de Venter. Klippe in die veld word deur die son verhit en dié hittebeelde word nog tot ná sononder uitgestraal.

Dit kan die funksie van die termiese kameras nadelig beïnvloed. Die Zenmuse-kamera het egter verskeie beeldopsies waaruit jy kan kies om dié probleme in ’n groot mate uit te skakel. Die kamera kan selfs in die dag gebruik word om mense onder voorwerpe, soos bome, te identifiseer.

Hommeltuigpatrollie

Ná vele toetse met verskeie hommeltuigmodelle is besluit op die Matrice 200 van DJI. “Dit is baie stabiel en die funksies omvattend,” sê Van de Venter. “Dit weeg minder as 7 kg en hoef daarom nie onderwerp te word aan Burgerlugvaartwetgewing nie.”

Een van die funksies is ’n volgaksie, waartydens die hommeltuig iemand volg wat ge-tag is. “ ’n Mens kan ook die hommeltuig ’n vasgestelde roete gee en as ’t ware patrolleer sonder om te oorvleuel waar hy reeds gevlieg het,” sê Van Niekerk.

Die hommeltuig het programmatuur en sensors wat hom waarsku teen voorwerpe soos bome, kragdrade, pale of geboue. Dit kan binne vyf minute aanmekaar gesit word en dadelik in die lug wees.

voorkoming

Van de Venter sê hoewel die hommeltuig hulle baie gaan help in die voorkoming en opvolg van misdaad, sal dié toevoeging nie mense van ’n aanval vrywaar nie.

“Gemeenskapsveiligheid is ’n kombinasie van samewerking en die betrokkenheid van boere by ’n omvattende veiligheidsplan. Dit moenie ’n verskoning wees vir enigiemand om sy waaksaamheid te verslap nie.

“Die hommeltuig is net een van die hulpmiddele, maar ons gemeenskap kan met trots sê dat ons die beste toerusting bekom het om moontlik ’n lewe te red. Ons gebruik alles in ons vermoë om misdaad stop te sit.”

Benewens die Schweizer-Reneke-veiligheidsplan kan die hommeltuig ook ná ’n aanval of veediefstal, soos ’n “hondespoorsnyer in die lug”, help vasstel of die misdadigers te voet of per voertuig gevlug het, terwyl die veiligheidsnet van reserviste en private sekuriteit soos ’n kordon in al die buitewyke ontplooi word.

Dit maak dit net makliker om iemand in hegtenis te neem, sê Van de Venter. “Die mense van Schweizer-Reneke staan soos een man saam.”

Sien ook die artikel “Plaasveiligheid: Delareyville se boere staan vas”.

Die nuutste toevoeging tot die Schweizer-Reneke-omgewing se veiligheidsplan: ’n DJI Matrice 200-hommeltuig en ’n Zenmuse XT640-kamera.

Spesifikasies van die hommeltuig-kamerakombinasie

  • DJI Matrice 200: R180 000 (die prys kan wissel na gelang van die wisselkoers).
  • Zenmuse XT640-kamera: R160 000.
  • 3 stelle batterye: R12 000.
  • Ekstras: Ses herlaaibare batterye, herlaaistasie vir die batterye, dratas en die kontroles.
  • Vliegtyd: 34 min. per stel batterye.
  • Reikafstand: 3,5 km vanaf basispunt.
  • Spoed: 30 km/h-70 km/h.
  • Zoem: 8x.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Navrae: Mnr. Pierre van de Venter, sel 083 257 6404.
Vir ’n video van die hommeltuig, sien https://youtu.be/H5lJEGHp1ig