Dís hoe supermarkte kan lyk as aanlyn winkels hul sin kry.

Die opkoms van die aanlyn aankope van kruideniersware – spesifiek vars groente en vrugte – lei tot die ‘o-tot-o-neiging’ (online-to-offline) en aanlyn winkels belê in nuwe supermarkte van baksteen en beton, wat glad nie lyk soos hul tradisionele eweknieë nie.

’n Goeie voorbeeld is Alibaba, ’n leier in China se e-handelmark, wat die afgelope twee jaar miljarde in winkels van baksteen en beton belê het. By hierdie supermarkte kan klante nie net inkopies doen nie, maar ook eet, kruideniersware aanlyn van hul slimfone af bestel, hul fone gebruik as skandeerders om produkinligting te kry en met die toepassing Alipay betaal.

Aanlyn aankope is veral gewild in China, die grootste kruidenierswaremark ter wêreld, wat ook groei ook vinniger as enige ander mark. Volgens mnr. Wayne Prowse van Fresh Intelligence Consulting voer China jaarliks 3,77 miljoen ton vars vrugte in (dis net ’n fraksie van die 214 miljoen ton wat die land self lewer). ’n Groot deel van die ingevoerde sitrus kom uit Suid-Afrika, het hy tydens die Fruitnet World of Fresh Ideas-konferensie in Berlyn gesê. Dis aangebied net ’n dag voordat die toonaangewende Fruit Logistica in dieselfde stad afskop. 

Mnr. Chris White, besturende direkteur van Fruitnet Media International, sê hy het verlede jaar ’n paar maande in Sjanghai gewoon en moes gou leer dat sy slimfoon te alle tye by hom moes wees omdat hy dit in China vir allerlei dinge kon gebruik. 

Beste van beide

Mnr. Yuxin Yang van die tydskrif Asiafruit sê aanlyn winkels sien hul fisieke winkels byna as ervaringsentrums.

“Jy kan dieselfde produk as in jou aanlyn winkel teen dieselfde prys sien, maar dit kombineer die beste wat aanlyn kan bied, met die beste wat vanlyn kan bied. Jy kan byvoorbeeld aanlyn betaal, pleks van om kontant te gebruik. Die winkels het dikwels ook ’n vol voedseldiens, soos dat jy jou biefstuk daar kan koop, laat voorberei en geniet. Dit gaan oor waardetoevoeging en tegnologie.”

Die winkels gebruik tegnologie, groot data en kunsmatige intelligensie om klantediens te verbeter en nuwe ervarings te verskaf wat konvensionele supermarkte nie doen nie.

“Daar is byvoorbeeld groot skerms by elke produk met inligting oor waar dit vandaan kom, watter kultivar dit is, wat die suikerinhoud is en so meer. Die inligting is ook met jou slimfoon beskikbaar.”

Nog ’n nuutjie is die slimtrollie. Wanneer jy die trollie vat, skandeer jy dit met jou slimfoon. Soos jy deur die winkelrye stap, volg jou trollie jou terwyl jy na hartelus jou inkopies inpak. Jy kan dan die trollie na die kasregister stuur om vir jou aankope te betaal. Terwyl jy die ry vryspring, kan jy nog deur die winkel stap of ’n koppie koffie in die winkel geniet.

Gerief, gerief, gerief

Nog ’n neiging van aanlyn winkels is om munt te slaan uit mense se behoefte aan gerief.

“Die idee is om die winkel so na as moontlik aan verbruikers te bring, hetsy deur winkelrakke in kantore of by die trappe in woonstelgeboue. Daar is reeds 20 000 sulke rakke in tien Chinese stede. Dit werk amper soos ’n muntoutomaat, maar jy gebruik ’n toepassing om te betaal, nie kontant nie,” vertel Yang.

Volgens hom werk die winkels dikwels ook saam met tradisionele supermarkte, wat beteken kleinhandel in sy geheel word vorentoe geneem.

“Ons moet net besef alles is nog baie nuut en daar is baie eksperimente. Sommige gaan werk, ander gaan misluk. Maar ons kan ons regmaak vir groot beleggings in die sektor omdat vars kos mense gedurig terugbring winkels toe.”

Boodskap aan boere 

“Verwag om mense van Alibaba en dies meer in jou boorde te sien, want almal soek voortdurend na die volgende groot ding. Hulle ding mee met mekaar en met tradisionele kleinhandelaars en soek alewig na nisprodukte om te bemark en versprei. Dikwels sal hulle ook eksklusiewe regte vir daardie produkte versoek. Verskaffers en boere moet dus seker maak hul produkte is uniek, sodat dit kan uitstaan tussen al die ander produkte,” was Yang se raad aan boere.