As jy so af en toe ’n bietjie afleiding nodig het, of self agter die stuur van die nuutste trekkers en stropers wil inklim, is dié speletjie beslis vir jou.

As dit by rekenaarspeletjies oor boerdery kom, is die opsies meestal beperk tot ’n verwante subtema, soos in die Age of Empires-reeks, of ’n onrealistiese sosiale verwerking, soos Farmville, waarmee mense jou op Facebook irriteer.

Daar was egter al ’n paar ligpunte, soos die Sim Farm van ouds en John Deere North American Farmer. Albei het ’n paar uur se afleiding verskaf, maar geen opvolgweergawes is nog bekend gestel nie.

Die Farming Simulator-reeks, van Duitse oorsprong, is die uitsondering en die vierde weergawe daarvan is pas bekend gestel. Die doel van dié speletjie is bloot om jou plaas te vergroot en allerlei toerusting te koop wat jy self bestuur of kan huur.

Daarvoor kies jy ’n realistiese landskap wat eie is aan die streek. Jy word aanvanklik van ’n plaasopstal, ’n land of twee en ’n volledige stel werktuie voorsien. Jy kan dan self die saaiboerdery uitbrei, ’n veevertakking bysit, of selfs met volhoubare energie begin boer. As jy suksesvol is, kan jy jou bestaande toerusting inruil vir groter modelle.

Dit is hoogs realistiese digitale weergawes van die ware Jakob wat jy self kan bestuur. Die standaardspeletjie verskaf ’n beperkte aantal modelle van erkende fabrikate, soos Case IH, New Holland, Deutz, Amazone, Lemken en Horsch. Maar dit is nie al nie.

Baie realisties

Die speletjie het ’n hele aanlyngemeenskap wat ander modelle werktuie skep, waarvan die meeste gratis beskikbaar is. Individue verbeter ook gedurig die spel, skep nuwe gewasse om te verbou, of maak digitale weergawes van hul eie boerdery waarmee ander spelers kan boer. Dit is veral gewild om groot plase in Amerika of Australië te skep.

Dit is die beste weergawe tot nog toe. Daar is baie aandag aan die fynere besonderhede oor boerdery kom, is die opsies meestal beperk tot ’n verwante subtema, soos in die Age of Empires-reeks, of ’n onrealistiese sosiale verwerking, soos Farmville, gegee en daar word elke jaar verbeteringe aangebring op grond van spelers se voorstelle. Die nuutste weergawe se uitleg is baie beter en die werktuie werk ook heelwat beter.

Die skottels draai en die sooie spat meer realisties. Die toerusting word selfs vuil en alle voertuie laat spore sodat jy nie oor bewerkte grond wil ry nie. ’n MAN-voorhaker is ook nou beskikbaar. Die doel is om self met die toerusting te ry, maar vir ’n landbou-ekonoom soos ek sou dit ook lekker wees om inligting en beheer oor die finansies te kry.

As jy so af en toe ’n bietjie afleiding nodig het, of self agter die stuur van die nuutste trekkers en stropers wil inklim, is dié speletjie beslis vir jou. Dalk maak iemand ook vir ons ’n kaart van Bothaville om mee te speel.

Jy kan die speletjie deur die Farming Simulator-webtuiste kry. Dit is te kry vir Windows en Mac, en vir jou tablet of foon.

  • Jan Greyling is ’n boer, navorser en ’n Ph.D.-student aan die Universiteit Stellenbosch.