Op die mees basiese vlak maak blokkettingtegnologie dit moontlik om ’n gedesentraliseerde, onbetwyfelbare, chronologiese databasis te skep waaraan niemand kan peuter nie, selfs as nie een van die partye wat toegang daartoe het, mekaar vertrou nie.

Teoreties het blokkettingtegnologie verskeie toepassings in die landbou, soos digitale graankontrakte, die bevestiging van die egtheid van stoetvee deur ’n eiesoortige en onveranderbare “brandmerk”, en die naspeurbaarheid van produkte deur dit te koppel aan ’n unieke identiteitsnommer. Tot dusver het hierdie toepassings egter nog nie gematerialiseer nie vanweë die beperkings van huidige blokkettingtegnologie.

BITCOIN SWAK BETAALMIDDEL

Hoewel sommige mense oortuig is daarvan dat bitcoin die geldeenheid van die toekoms is, is dit eenvoudig nie moontlik nie. Soos in die vorige rubriek genoem, ontvang myners bitcoin as vergoeding om al die transaksies in ’n nuwe blok te bevestig, asook die reg om die volgende blok tot die ketting by te voeg. Na raming kos dit tans $5 000 tot $7 000 net aan elektrisiteit om ’n enkele bitcoin te myn. Gevolglik kos dit tans $26 per transaksie om ’n bitcoin oor te dra wat as betaling vir die myners dien om die transaksie te valideer.

Die koste is egter nie die grootste nadeel nie. Met bitcoin wat op ’n eerstegenerasie-blokketting gebou is, kan die stelsel tans sowat drie transaksies per sekonde verwerk en dit duur 10-60 minute vir die transaksie om bevestig te word. Stel jou voor jy moet só lank wag elke keer wanneer jy jou kredietkaart gebruik. In vergelyking kan Visa se globale betaalnetwerk na raming 24 000 transaksies per sekonde verwerk.

Vir ’n blokketting om as die basis van ’n globale betaalnetwerk te dien, sal dit nagenoeg dieselfde aantal transaksies per sekonde moet kan behartig. Uiteraard werk ontwikkelaars al jare daaraan met die gevolg dat sogenoemde tweedegenerasie-blokkettingtegnologie, soos ethereum, die lig gesien het. Hierdie tegnologie kan egter slegs 12 transaksies per sekonde behartig en dit duur steeds 10-20 sekondes om die transaksie te bevestig.

Ethereum het wel die voordeel dat hierdie blokkettingtegnologie programmeerbaar is, wat dit moontlik maak om sogenoemde slimkontrakte daarmee te skep. Met dié slimkontrakte word die bepalings van die kontrak binne die kontrak self vasgevang sodat aksies outomaties uitgeoefen kan word wanneer ’n voorwaarde nagekom word. Byvoorbeeld, ’n deposito kan outomaties uit ’n dokumentedepositorekening (escrow) vrygestel word nadat die kontrak se voorwaardes vervul is.

Afgesien van die lae hoeveelheid transaksies per sekonde word die grootskeepse gebruik van ethereum teruggehou deur die feit dat ’n transaksie op die netwerk tans $3 tot $23 kos, en (nog erger) dat die transaksiekoste onseker is omdat dit bepaal word deur die hoeveelheid transaksies op die netwerk en die prys van ethereum.

Die mense aan die stuur van ethereum skep tans ’n nuwe weergawe daarvan wat hierdie probleme sal aanpak, maar dit is nog nie duidelik wanneer dit gereed sal wees en hoe dit sal werk nie.

BELOWENDE ALTERNATIEF

’n Opwindende alternatief is die hedera hashgraph-tegnologie wat deur twee Amerikaners ontwikkel is. Soos met ’n blokketting bewerkstellig hul tegnologie ook ’n gedesentraliseerde, onbetwyfelbare, chronologiese databasis sonder om van blokke data gebruik te maak. Hiervoor gebruik hulle ’n wiskundige metode waarmee al die rekenaars op die netwerk as’t ware met mekaar “skinder” sodat hulle konsensus bereik oor transaksies en dit op hierdie wyse op die netwerk gevalideer word.

Hierdie tegnologie is nie net vinniger en goedkoper nie, maar bied ook die hoogste mate van sekuriteit (asynchronous byzantine fault tolerant).

Hul tegnologie kan meer as 10 000 transaksies per sekonde behartig, dit bereik binne 3-5 sekondes konsensus en transaksiekoste is vasgepen op $0,0001 per transaksie.

Anders as verreweg die meeste blokkettingprojekte wat deur ’n gemeenskap van individue gedryf word wat dit in gemeen het dat hulle die bestaande wêreldorde wil ontwrig, is verskeie internasionale maatskappye beleggers in en aktief betrokke by die ontwikkeling van die hedera-blokketting.

Dit sluit in Google, Boeing, IBM, LG, Deutche Telekom, Avery Dennison en tien ander. Omdat hierdie maatskappye aktief betrokke is by die ontwikkeling van Hedera en hierdie derdegenerasie-“blokketting” steeds oor al die voordele beskik, maar die kwessies met transaksiespoed en koste aanpak, is dit seker dat die kommersiële toepassing hiervan sterk sal toeneem.

In die derde en laaste aflewering in hierdie reeks rubrieke volgende week sal daar in meer besonderhede gekyk word na die moontlike toepassings van hierdie tegnologie in die landbou. 

Dr. Jan C. Greyling is ’n beleggingsanalis by AgVentures. Sy kontakbesonderhede is beskikbaar by: www.agventures.africa