’n Landboukonsultasie-firma van Noordwes het ’n onbemande vliegtuigie (drone) ingevoer. Dié robotvliegtuigie het van die gevorderdste tegnologiese toerusting beskikbaar vir die insameling van inligting vanaf saailande uit die lug.

Mnr. Cobus Burger, grondkundige en besturende direkteur van die landboukundige dienste-onderneming SGS Nvirocrop, met sy hoofkantoor op Potchefstroom, sê sover hulle weet, is hulle die eerste landbou-onderneming in Afrika wat ’n robotvliegtuig in dié gevorderde klas aanskaf. “Dit is ’n indrukwekkende stukkie tegnologie wat reeds kommersieel gebruik kan word,” sê Burger.

Die onderneming beoog om voortaan as ’n landboukundige diens aan boere fotokaarte van saailande en die gewasse met dié vliegtuigie saam te stel. Aan boord is twee kameras wat gewone en NDVI-foto’s kan neem, soortgelyk aan die afstandswaarnemingskaarte wat boere reeds met inligting vanaf satelliete en/of vliegtuie kan ontvang. Die nuwe Nvirocrop-vliegtuigie se kameras kan egter foto’s met ’n resolusie van net 4 cm neem, teenoor die satelliet- of vliegtuig-fotokaarte wat inligting met ’n resolusie van 5 meter tot 15 meter per ruitkaartblok weerspieël.

Geen afstandbeheer nie
Die nuwe robotvliegtuigie word vooraf met GPS-punte geprogrammeer om ’n roete heen en weer oor ’n land te vlieg, en geen afstandbeheer is nodig nie. “Ons voer net ’n boer se landsgrense in en die robottuigie vlieg op en af, terwyl dit voortdurend foto’s neem,” verduidelik Burger.

“Die grootste nadeel van ander tegnieke is dat die standaard-NDVI-kaarte (Normalised Difference Vegetation Index) wat met satelliet-inligting saamgestel word, net aan ’n boer verskaf kan word as die satelliet minstens 15 000 ha, alles in een blok, dek, anders raak dit vir die boer te duur. Die satelliet word geprogrammeer om ’n foto te neem as dit oor ’n bepaalde gebied beweeg. As dit dan dalk bewolk is, is daar nie ’n foto nie.

“Met vliegtuie, soos wat reeds in onder meer die Suid-Kaap gebruik word, duur dit ook ’n geruime tyd om te vlieg en die data te verwerk, en dit kan tot ’n paar maande duur om die produk (die kaarte met die data wat ontleed is) te lewer.” Volgens Burger kan die nuwe tuig betreklik goedkoop oor enige grootte oppervlak vlieg en foto’s neem, danksy ’n elektriese motor wat die bedryfskoste laag hou. Die oppervlakte van haelskade, byvoorbeeld, kan gou presies bepaal word deur daaroor te vlieg. Dit kan ook ’n nuttige hulpmiddel op lande wees waar stikstof veranderlik toegedien word.

Die boer kan gewas-inspeksies, om moontlike probleme op te spoor, deur die groeityd met die hulp van die nuwe robotvliegtuig doen.