Lugvaartkenners van die RMIT-universiteit in Melbourne, Australië, en die maatskappy XROTOR het nuwe skroewe vir hommeltuie ontwikkel wat sowat 15 desibels stiller is as die kommersiële modelle wat tans beskikbaar is. Hulle het nuwe numeriese algoritmes vir die ontwerp van skroewe ontwikkel, en aandag gegee aan aspekte rondom hoe mense klank hoor en waarneem.

“Die menslike oor is gevoeliger vir sekere frekwensies klank as vir ander. Ons persepsies van klank verander ook namate ons ouer word,” skryf dr. Abdulghani Mohamed van die RMIT-universiteit in ’n artikel op BuildAustralia.com.

“Ons metode om ontwerpe te optimaliseer, kan toegepas word vir die ontwerp van kleiner skroewe wat hommeltuie gebruik, en selfs eendag vir veel groter lugtuie wat dalk in die toekoms soos taxi’s gaan rondvlieg om passasiers te vervoer.”

Sy span se bevindinge het in Aerospace Research Central verskyn.