Tegnologie begin nou slimmer maniere om te besproei aan boere verskaf sodat hul bome meer avokado’s kan lewer.

Die maatskappy SupPlant, wat danksy Israliese tegnologie sagte- en hardeware vir presisielandbou bied, het ondervinding in die waarneming van plantstres.

Luidens ’n onlangse mediaverklaring word dié kundigheid nou ingespan in ’n stelsel wat agronomiese algoritmes, sensors, kunsmatige intelligensie, massas data en wolkgebaseerde tegnologie gebruik om beter presisiebesproeiing moontlik te maak. Die maatskappy se datamodel gebruik voorspellende algoritmes wat aan die hand van 100 miljoen avokado-datapunte ontwikkel is.

SupPlant-sensors word op vyf plekke om ’n boom geplaas om plantstres te meet. Dit word vlak en diep onder die grond gesit, asook by die stam, blare en vrugte. In die proses word die groeipatrone van plante en vrugte gemonitor, asook die werklike waterinhoud van die grond en plantgesondheid. SupPlant monitor ook intydse en voorspelde klimaatdata en voorspelde plantgroeipatrone.

Hierdie inligting word elke 30 minute by ’n wolkgebaseerde algoritme gevoeg. Deur al die data te integreer, word aanbevelings oor presisiebesproeiing gemaak.

Weerstoestande is een van die grootste probleme vir ’n Suid-Afrikaanse boer. SupPlant gebruik ClimaCell, ’n toonaangewende weerintelligensieplatform waarmee die weer op ’n spesifieke plek gemonitor kan word. Só kan hittegolwe en die invloed daarvan akkuraat voorspel word sodat boere daarop kan reageer.

SupPlant is as ’n selfoontoepassing beskikbaar, wat dit moontlik maak om waterbehoeftes virtueel van enige plek af te monitor. Dit verskaf inligting oor elke stuk grond, grafiese voorstellings oor voltooide en toekomstige besproeiingsplanne, spesifieke huidige en voorspelde klimaatsdata per stuk grond, agronomiese insigte en groeipatrone van boomstamme en vrugte. Voorstelle word ook gemaak oor hoe daar op ’n spesifieke dag en in die volgende week besproei behoort te word.

Volgens die maatskappy maak die toepassing boere betyds en gerieflik bedag daarop dat hul plante onder druk is en dalk meer water nodig het. Diegene wat nie die tegnologie gebruik nie, sal dit eers aan die vrugte agterkom wanneer daar reeds skade aan die plant aangerig is.