Tudder, ’n toepassing wat deur die Britse maatskappy Hectare ontwerp is, maak dit maklik om die perfekte stoetbul of spogkoei op te spoor. Die toepassing is geskoei op die idee van die gewilde toepassing vir afsprake Tinder. Al wat jy hoef te doen as jy die geskikte bul of koei gevind het, is om regs te vee oor jou selfoon.

Die toepassing verskaf foto’s van beeste, asook inligting oor hul ouderdom, karakter, gesondheidstoestand, wie die eienaar is en waar die plaas is waarop hulle loop. Moenie skrik as jou selfoon begin “moo” wanneer jy regs daaroor vee nie, dit beteken net dat jy ’n geskikte bees gevind het.

Tudder se doel is om die afstand wat boere ter wille van die teelproses aflê, te verminder. Mnr. Marcus Lampard, ’n boer van Carmarthenshire in die suidweste van Wallis, het aan Bloomberg vertel: “Dit is so lastig om die vee na ’n mark te neem. As ek ’n bul mark toe moet vat en weer terugbring, beteken dit bedrywighede op die plaas staan twee weke stil.”

Die maatskappy beoog om ’n soortgelyke toepassing vir skaapboere te ontwikkel.

Volgens Bloomberg gebruik ’n derde van die boere in Brittanje Hectare se platforms om vee en graan te verhandel.

 
Tudder,
So lyk jou selfoonskerm wanneer jy 'n geskikte bees op Tudder gevind het. Foto: Skermgreep