Die nuwe handelsplatform Nile.ag Marketplace bied handelaars die geleentheid om hul vars produkte regstreeks aan kommersiële kopers reg oor Suid-Afrika en die res van Afrika te verkoop.

Mnr. Louis de Kock het die platform saam met mnre. Eugene Roodt en Rick Kleinhans op die been gebring. De Kock het op ’n groenteplaas by Barkly-Wes in die Noord-Kaap grootgeword en was voorheen die kategoriebestuurder van vars produkte by Amazon in Amerika. Roodt was voorheen ’n bankier by JP Morgan Investment en Kleinhans die leier van ’n wêreldwye ontwikkelingspan by Luno, Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform wat verlede jaar aan Amerikaners verkoop is.

“Ek het in 2017 by Jumia in Nairobi, Kenia, gewerk, waar ek verantwoordelik was om hul oorgrens-B2B-platform van stapel te stuur,” vertel De Kock. “In dié tyd het ek gereeld deur die informele markte van Oos-Afrika beweeg. Ek het telkens afgekom op uitsonderlike avokado’s wat spotgoedkoop verkoop is, terwyl avokado’s baie duur was in Suid-Afrika. Terselfdertyd was uie besonder duur op die Afrikamarkte, terwyl dit in Suid-Afrika veel goedkoper was.

“Ná verdere navorsing het ek besef daar bestaan nie voldoende markmeganismes vir oorgrenshandel tussen Afrikalande nie, veral in ’n tyd dat verstedeliking die vraag na voedsel verhoog. Ek het ook besef e-handel het reeds vinnig posgevat in die res van Afrika en dat dit moontlik sou wees om oorgrenshandel aanlyn te bevorder. Nadat ek by Amazon gewerk het, waar ek onder meer verantwoordelik was om die varsprodukte-afdeling in Amerika van stapel te stuur, het ek gevoel die tyd is ryp om ’n oorgrens-e-handelplatform vir voedsel in Afrika bekend te stel.”

Boere lys hul produkte op die platform volgens die gradering en groottes wat deur regulasies voorgeskryf word, en verskaf ook foto’s. ’n Onafhanklike inspekteur tree as arbiter op wanneer produkte wat gelewer word, nie met regulasies ooreenstem nie.

Sedert dit in November bekend gestel is, is meer as ’n miljoen kilogram vars produkte op die platform verkoop en die huidige vraag oortref die stigters se verwagtinge.

SÓ WERK DIT

VEILIG EN MAKLIK

De Kock sê dit was maklik om groothandelaars te oortuig om van die platform gebruik te maak.

“Die platform se voordele is aansienlik. Nile.ag bied ’n enkele platform wat regstreeks pryse en beskikbaarheid van ’n wye reeks produkte toon, en waar transaksies binne ’n paar sekondes met Suid-Afrika se voorste produsente gesluit kan word. Geld word deur die platform beveilig, wat kopers én verkopers beskerm.”

De Kock verduidelik dat die aanlyn verhandeling van vars produkte ingewikkelder is as ander produkte vanweë die verskille in gehalte en groottes van die produkte. Kouekettingvereistes en groot afstande tussen produsente en markte vererger logistieke struikelblokke. “Nile.ag het ’n digitale ekostelsel ontwikkel wat die probleme met voedselhandel, onder meer pryse, nagaan van gehalte en betalings oplos.

“Deur die platform kan ’n grootmaataankoper van byvoorbeeld piesangs nou die pryse en beskikbaarheid van produkte van verskeie produsente regstreeks sien en onmiddellik bestellings plaas, en rypheid, graad, grootte en verpakking spesifiseer.

“Die piesangboer vind ook baat hierby omdat hy minder kommissie betaal en presies weet watter prys hy vir sy produkte kry voor dit die plaas verlaat. Betalings, vooraf en op krediet, word namens gebruikers deur die platform behartig.”

De Kock sê terwyl tradisionele markte vereis dat produsente en handelaars by ’n sentrale punt moet ontmoet, verseker aanlyn handel dat produkte via die kortste moontlike roete gelewer word.

“Dit verminder vermorsing en vervoerkoste drasties. Dit maak dit ook makliker vir kopers in ander lande om met plaaslike produsente handel te dryf, aangesien hulle nie meer hoef te reis om die produkte te koop nie.”

Die platform sal binnekort uitgebrei word om ander voedselprodukte, verwerk én onverwerk, te koop aan te bied, maar konsentreer tans op vars produkte, wat ’n verskeidenheid vrugte en groente insluit.

De Kock sê die doel van die platform is om Afrika se produsente toegang tot markte met die grootste behoefte vir hul produkte te bied. “Deur streeksvoedselstelsels te integreer, wil ons voedsame kos toegankliker maak vir verbruikers op die vasteland en elders.”

NAVRAE: Web: nile.ag