Dié streek het weens die droogte in 2018 slegs 145 000 ton wyndruiwe geoes. Hoewel die Clanwilliamdam 2019 vol was en die streek dus oorgenoeg water gehad het, het die oorspoeleffek van die droogte veroorsaak dat slegs 137 000 ton druiwe geoes is. Vanjaar gaan dit aansienlik beter en die oes gaan moontlik met 46% teenoor die 2019-oes vergroot.

Volgens mnr. Gert Engelbrecht, Vinpro se streekskonsultant in die Olifantsrivier-streek, behoort produsente vanjaar na aan 24 t/ha te oes. “Ons rekordopbrengs was 28 t/ha in 2013. Ons het vanjaar ’n baie voorspoedige jaar gehad. Die winter was lekker koud en die wingerd het in September vinnig weggespring. Die hele somer was gematig en dit het goeie produksie en gehalte gesteun. Ons het ongelukkig in Lutzville 15 mm reën in Oktober gehad wat donsige skimmel op wingerd veroorsaak het en opbrengs daar is ingeboet.”

Engelbrecht sê verder het ’n hittegolf op 5 Desember, in ’n stadium wat kultivars deurgeslaan het, voorgekom en sonbrandskade is opgedoen. “Andersins was dit ’n baie voorspoedige seisoen en boere kan tevrede wees met goeie gehalte druiwe met goeie suikervlakke, goeie pH en uitstekende kleur.” Engelbrecht glo dat die laaste druiwe teen die laaste week van Maart in die omgewing van Vredendal en Lutzville gepars sal word. Dit is ’n week tot twee weke vroeër as normaal.

Meer produktiewe hektare

Hoewel die droogte heelparty boere gedwing het om druiwe uit te haal, is Engelbrecht nie bekommerd oor dié neiging nie. Hy raam dat daar tans net sowat 10% minder hektare as in 2015 is. “Die tempo waarteen hektare minder raak, raak al hoe stadiger en oor drie jaar behoort ons te sien dat die aantal hektare in die streek stabiliseer. Dit was nie noodwendig ’n slegte neiging nie, want dit was die ouer en onproduktiewe wingerde wat eerste uitgehaal is. Dit wat oorbly, is dus die produktiewe hektare.”

Die Namakwa Kelders is een van die kelders in die streek wat die swaarste getref is deur die twee moeilike jare. In 2019 is slegs 46 000 ton druiwe uit die vallei by dié kelder afgelaai. Hoewel die kelder nog nie klaar gepars is nie, lyk dit asof 78 000 ton druiwe vanjaar by die Namakwa Kelders gepars gaan word. Dit is bykans 70% meer druiwe as verlede jaar.