Dié instelling bied ’n aanlyn opleidingskursus van 14 uur aan waarin Israeliese kenners studente meer leer oor verskeie onderwerpe, van nuwe kultivarontwikkeling tot besproeiingstegnieke, verpakking, siektebekamping, voedselveiligheid en die voorkoming van voedselverliese.

“In die lig van die wêreld se liefde vir dié supervrug het ons die avokado nagevors en daarmee geëksperimenteer om te sien hoe ons dit kan verbeter en winsgewender kan maak deur optimale groeipotensiaal te ontgin, die verbouing van die vrug meer volhoubaar te maak en deur bemarking te verbeter,” het mnr. Ari Dembo, die instituut se ontwikkelings-en-samewerkingsbestuurder, tydens ’n onlangse webinaar van die Israel-Suid-Afrika-besigheidskamer gesê.

Die instituut is al meer as 33 jaar bedrywig met opleiding van mense en is aktief in meer as 100 lande reg oor die wêreld, sê Dembo.

“Omdat Israel nog altyd met beperkte hulpbronne oor die weg moes kom, het die instituut ’n sentrum vir landbou, omgewing en water op die been gebring. Deur innovasie het ons die woestyn laat blom.”

Dembo sê daar word deesdae alles van kersietamaties tot avokado’s in die Negev-woestyn verbou. Daar is selfs ’n groot akwakultuurbedryf in die woestyn, meer as vyf uur van die oseaan af. “Israel het enorme vordering in navorsing gemaak en ’n leier in landboutegnologie geword en deur onderrig en opleiding deel ons ons sukses met die wêreld.”

Belangstellendes in die avokadoproduksiekursus, of enige van die instituut se ander kursusse, kan e-pos na info@galilcol.ac.il stuur.