Die bewering dat sommige aartappelboere onwettig paklobutrasool by hul aartappels gebruik, is onlangs deur die Wes-Kaapse departement van landbou onder Aartappels Suid-Afrika (ASA) se aandag gebring. Paklobutrasool is nie vir gebruik by aartappels geregistreer is nie. Dit is die aktiewe bestanddeel in die middels Cultar (reg.nr. L3693) en Avocet (reg.nr. L7368).

ASA het onmiddellik geskakel met CropLife SA, die bedryfsorganisasie wat vervaardigers, verskaffers en verspreiders van landbouchemikalieë verteenwoordig, om seker te maak sy lede skryf nie ongeregistreerde produkte vir die gebruik by aartappels voor nie.

Die navorsingsafdeling van ASA het reeds met ’n onafhanklike ondersoek na die moontlike gebruik van paklobutrasool by aartappels begin. ASA ondersoek ook die moontlikheid om die gebruik van paklobutrasool by aartappels geregistreer te kry.

“ASA steun nie die gebruik van ongeregistreerde chemiese produkte by aartappels nie,” sê dr. André Jooste, uitvoerende hoof van ASA. “In gevolge Wet 36 van 1947 is dit onwettig om ’n ongeregistreerde produk aan aartappelboere aan te beveel. Sodra die onafhanklike navorsing afgehandel is, sal dit aan die bedryf kommunikeer word.”

Cultar en Avocet is groeireguleerders en is geregistreer om by verskeie vrugtegewasse gebruik te word.