Dit is meer as dubbel die normale gemiddelde prys in Oktober en dit boonop in die middel van die maand, wanneer pryse normaalweg onder druk is.

Volgens mnr. Yassien Davids, ’n direkteur van die varsproduktehandelsmaatskappy Golden Harvest, is hierdie prys nie volhoubaar nie. “Dit raak ’n ongesonde situasie, want die risiko van verliese raak so groot dat handelaars besluite slegs vir ’n enkele dag neem. Ons het byvoorbeeld op Saterdag 10 Oktober ’n vrag aartappels teen R80 tot R90 per 10 kg-sakkie in Johannesburg aangekoop en dit na Kaapstad vervoer. Teen Sondag, toe dit in die Kaap aankom, was dit vrot en ons moes die ganse vrag teen R40 per 10 kg-sakkie verkoop. Die aartappels het goed gelyk toe ons dit gekoop het, maar teen so ’n enorme prys begin produsente kanse waag. Hulle haal in nat toestande of te vroeg aartappels uit, wat die gehalte en houvermoë van die produk onder risiko plaas. Dit is ’n verlies vir almal in die bedryf, want vertroue gaan daarmee heen. Met al die onsekerheid gaan die verbruiker die produk kies wat vir hom gemoedsrus gee. Gehalte is tans uiters belangrik.”

Dit grootste oorsaak van die hoë prys is lae volume, sê Davids. “Enige landwye aartappelvoorraad onder 500 000 sakkies is laag en het hoë pryse tot gevolg. Die volume van 10 tot 13 Oktober was rondom 350 000 sakkies landwyd. Dit is ongelooflik min aartappels en het hierdie astronomiese pryse tot gevolg.”

Hitte kan skade bring

Tans stuur die ganse Limpopo-streek, asook Petrusburg en Vryburg aartappels na die markte. Volgens mnr. CT van der Merwe van AL 3 in Dendron, Limpopo, kan die huidige volume aartappels op die markte laag bly.

“Daar is heelwat produsente wat laat geplant het en vroeër as op ’n optimale tyd gaan doodspuit, of reeds vroeg doodgespuit het en volstoom oes. Dit is meestal produsente teen die Limpoporivier wat haastig raak om hul aartappels geoes te kry sodat die hitte hulle nie vang en skade deur verrotting veroorsaak nie. Ek dink nie die prys sal sommer platval en by R60 per 10 kg-sakkie uitkom in die nabye toekoms nie.”

Covid en koue bring goeie pryse

Dit is nie net aartappels wat deurgeloop het nie, sê mnr. Peet Janse van Rensburg van Langplaas Boerdery in Brits in Noordwes. “Patats sal moontlik tot in Januarie nog skaars wees, want baie produsente wat ranke vir die kommersiële boere produseer, se eerste oeste het weens ryp gevrek. Die meeste ander groente, veral die pampoensoorte, het ook deurgeloop onder die koue winter en dus is voorrade tans laag op die markte.

“Die Covid-19-pandemie het ook die verbruiker se inkopiepatrone effe verander. Die verbruiker koop meer vars produkte om gesonder te lewe en is bereid om meer te betaal vir vars produkte, juis omdat dit gesond is. Dis ’n versoeking om te sê dat pryse tot in 2021 hoog sal bly, maar produsente kan baie vinnig skaars groentes aanplant. Produsente moet dus oordeelkundig die somer beplan.”

Selfs in die Wes-Kaap het die koue in September groente se ontwikkeling vertraag. Volgens groenteboere in dié provinsie is veral wortels wat veronderstel was om teen einde Oktober ryp te wees, se ontwikkeling met tot twee weke vertraag.