Mnr. Bertus van Heerden, besturende direkteur van AgriInspec, het in n aanbieding by die Knoffelkwekersvereniging se kongres gesê dit is gewoonlik plaaslike produsente wat die swaarste getref word by skelm invoere. Daarom is meeste van AgriInspec se kliënte soos die Rooivleisprodusente-organisasie, Melkprodusente-organisasie, die Suikervereninging van Suid-Afrika en Aartappels SA rolspelers aan die begin van die waardeketting.

“Daar is gewoonlik vier maniere waarop invoerders heffings probeer vermy: die waarde word onderverklaar, die volume word onderverklaar, verkeerde besonderhede oor die land van oorsprong word verstrek of verkeerde besonderhede oor die tipe produk word verklaar,” sê Van Heerden. “Soms word produkte ingevoer en opgeberg om weer na ander lande uitgevoer te word maar dan beland dit later op die plaaslike mark.”

AgriInspec se rol is om te kyk wie die invoerders is, vir watter doel die produkte ingevoer word en of die regte protokolle gevolg en heffings betaal is.

Volgens hulle data is daar verlede jaar sowat 2 500 ton vars en 1 500 ton gedroogde knoffek ingevoer. Die meeste vars knoffel  (73%) het van Spanje af gekom en die meeste gedroogde knoffel (58%) van China af.   

Die invoerheffing op vars knoffel is R3,25/kg (behalwe virEU en SAOG-lande wat  van heffings vrygestel is). Vir gedroogde knoffel is dit 20% van die verklaarde waarde en vir China is daar ook n verdere teenstortingstarief van R19,25/kg.

Van Heerden glo daar word knoffel ingevoer wat nie aan die invoerregulasies voldoen nie en dat dit teen lae pryse op die plaaslike mark verkoop word. “Hierdie praktyk verwring en versteur die SA mark en die prysvlakke. Voorts is daar ook fitosanitêre risiko’s vir die bedryf indien die invoerprotokol nie reg toegepas word nie.”

Hy sê in hulle ondersoeke kyk hulle ook na die gehalte van die ingevoerde produkte. By knoffel sal daar byvoorbeeld gekyk word of bleikmiddels gebruik is om knoffelbolle meer wit te laat vertoon.