Me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Donderdagnag die nuwe regulasies rondom restaurante afgekondig. Hoewel Suid-Afrikaners weer mag gaan uiteet, mag geen alkohol in restaurante of casino’s bedien word nie.

Talle wynkelders is aan die restaurantmark blootgestel of bedryf hul eie restaurante.

Dié regulasies kan hulle knou, meen mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro.

Mnr. Jean Engelbrecht, eienaar van Rust en Vrede-wynlandgoed en verskeie restaurante in Suid-Afrika en Namibië, sê tot 35% van hul wyn word in restaurante verkoop. “Dit is ’n wesenlike deel van jou besigheid en baie sleg vir die bedryf.”

Hy beskou die besluit as “moedswillig”.

“In Namibië is die restaurante al drie weke lank oop en hulle mag wyn bedien. Die tafels is ver van mekaar en higiënepraktyke word toegepas. Dit werk baie goed. Dis ’n model wat in Europa werk, hoekom nie hier nie?”

Volgens hom sal minstens 30% van die restaurante in die land nie kop bo water kan hou as hulle nie wyn mag bedien nie. “Dit sal nie vir hulle die moeite werd wees om oop te maak nie.”

Mnr. Thys Louw van Diemersdal in Durbanville sê dis veral boetiekkelders of duur wyne wat deurloop sedert hulle die restaurantmark verloor het.

“Restaurante gaan egter ook swaarkry, want die marges wat hulle op wyn hef, is hoog en dis tot ’n groot mate waar baie van hulle hul geld maak.”

Plaaslike mark

Op die vraag of die wynbedryf andersins op die herstelpad is ná tien weke waarin wyn nie plaaslik verkoop kon word nie en uitvoer weke lank verbied was weens die nasionale inperking, het Basson optimisties geantwoord: “Onder omstandighede gaan dit goed. Daar is nie voorvalle of kapings van vragmotors nie en almal hou by die beperkte handelsure.”

Paniekaankope het in Junie plaasgevind, want verbruikers het gevrees die verkoopsverbod sou weer ingestel word.

“Ons is egter bekommerd, want verbruikers het nie geld nie. Daarom kan ek nie sien dat die binnelandse wynmark die volumes wat hy tydens die verbod verloor het, gaan opmaak nie.”

’n Ander probleem is alkoholmisbruik en onwettige handel, wat begin sodra drankwinkels Donderdae om 17:00 sluit. “Dis ’n enorme probleem wat ons moet hokslaan.”

Hawe ’n probleem

Kapasiteitsprobleme by die Kaapse hawe is ook ’n groot bron van kommer.

“Gegewe die probleme in die hawe bly uitvoer, waar ons heil nou eintlik lê, ’n kwessie. Die wyn wat tans uitgevoer word, is bedoel vir die Europese somerseisoen. Baie daarvan word net betyds verskeep, maar dit word nou vertraag weens die probleme in die hawe. Ek lees sommige skeepsrederye beskou Kaapstadhawe nou as een van die swakstes ter wêreld.”

Die bedryf is deurlopend in gesprek met Transnet hieroor.

Stuit onwettige handel

Daar is tans nie sprake dat aksynsbelasting op drank verhoog gaan word nie, maar Basson het benadruk dit sal meer gewens wees om eerder onwettige handel te probeer stuit as om hoër belasting in te stel “wat die ekonomie sal doodmaak”.

Die bedryf vergader gewoonlik in November met die nasionale tesourie oor aksynsbelasting.

“In dié stadium is daar nie gesprekke aan die gang nie, maar die alkoholbedryf werk aan ’n maatskaplike verdrag met die regering om op ’n beleidsraamwerk ooreen te kom. Aksynsbelasting is een van die elemente wat onder die loep sal kom, want gegewe die belastingtekorte sal dit waarskynlik ’n redelike armdruk wees.”

Dis ongunstig dat mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, in sy aanvullende begroting die begroting vir landbou, toerisme en opleiding verminder het, sê Basson. “Dis die bedrywe wat groei moet bewerkstellig.”