Hommelbye is net so hardwerkend en kan baie meer bloeisels op ’n slag besoek. Hulle werk ook langer ure en word nie deur winderige of bewolkte weer afgesit nie, sê mnr. Miguel Claros, tegniese verkoopsverteenwoordiger van Biobest Spain, ’n maatskappy wat korwe vir hommelbye vervaardig.

Amandelbloeisels hou gewoonlik net sowat twee weke aan die boom tydens vroeglente wanneer temperature in Europa nog taamlik laag is, en dit nog nie noodwendig ideaal vir heuningbye is om aktief aan die werk te wees nie.

Claros sê luidens ’n mediaverklaring deur Biobest dat hommelbye by temperature laer as 10 °C kan werk.

“Deur hul liggame te vibreer, wek hulle hitte op en word hulle nie deur die wind geïntimideer nie. Dit maak van hulle ’n uitstekende hulp vir heuningbye. Heuning- en hommelbye kan saam ’n optimale amandeloes van goeie gehalte en grootte op ’n natuurlike en volhoubare manier help verseker.”

Hy beklemtoon die waardevolle rol wat insekbestuiwers in die voorsiening van voedsel vir die mens speel, en sê hulle moet as ’n “noodsaaklike bron” beskou en versorg word.

Volgens Claros dra Biobest se vernuwende Multi-Hives-konsep by tot die bestuiwingsproses. Daardeur word drie korwe bymekaar gegroepeer. Die hitte wat elke kolonie opwek, word sodoende gedeel, en help hommelbye om in swak weer te oorleef en steeds aktief te kan werk. Die houer word van weerbestande materiaal gemaak wat goeie isolering teen die koue bied.

Biobest-produkte word nie in Afrika suid van die Sahara bemark nie, aangesien hommelbye nie ’n bestuiwingsrol in die landbou in dié streek speel nie.