Indien die huidige uitvoervolumes na China volgehou word, word ’n nuwe rekord verwag.

Die organisasie sê hoewel dié stygende neiging goeie nuus is, is dit steeds slegs 4% van die totale appeluitvoer vanuit Suid-Afrika tot in week 18 van 2021. Hortgro het in Mei vanjaar ’n bemarkingsveldtog in China begin om meer bewustheid van Suid-Afrikaanse appels te skep en verbruik te probeer verhoog. Mnr. Jacques du Preez, hoofbestuurder vir handel en markte van Hortgro, het in Maart reeds met Chinese invoerders, groot- en kleinhandelaars geskakel om neigings en inligting te bespreek en te onderhandel oor bemarkingsveldtogte.

“Dit is ’n nuutjie vir ons bedryf en die program het goed begin. Ons het begin met aktiwiteite in die kleinhandel en glo die veldtog sal binne die volgende week of twee begin spoed optel. Ons bemarking is generies, maar ons werk baie nou saam met al die Suid-Afrikaanse uitvoerders.”

Pere is gewild in Indië

Hortgro beoog om vanjaar in Indië ’n soortgelyke program vir Suid-Afrikaanse appels en pere te begin. Oor die afgelope twee jaar is finansiering vir bemarking van Europa na China, Indië en Nigerië geskuif weens die groei in dié markte. Die bemarkingsbegroting van sowat R4 miljoen in Indië en China gesamentlik is tans meer as dubbel dié van die Europese Unie (EU) en Brittanje. “Ons het reeds 4% van die totale appeluitvoer en 7% van peeruitvoer na Indië verskeep tot in week 18 vanjaar. Ons glo daar is baie potensiaal vir pere in Indië, veral vir die Vermont Beauty en Forelle.

“Die intensiewe bemarkingsveldtogte sal tot Augustus voortduur. Ons gaan egter deurgaans ’n teenwoordigheid in die handel handhaaf met al ons programme en dan in die tyd van die jaar wanneer die volumes vergroot, die bemarkingsaktiwiteite en Suid-Afrika se profiel verhoog.

“Programme soos hierdie is langtermynbeleggings en die meting van sukses is altyd ’n kwessie. Uiteindelik wil ons meer vrugte uitvoer teen goeie, aanvaarbare pryse om die bedryf se winsgewendheid te verhoog. Ons wil Suid-Afrika posisioneer as die voorkeurverskaffer van vrugte van hoë gehalte met ’n uitstaande eetgehalte.”