Volgens mnr. Daan Brink van Fruitmax Agri op Grabouw het die vroeë appels effens deurmekaar geblom.

“Ek dink die laat reën het sommige blokke en selfs sommige bome gevang. Hulle moes in die reën bot, terwyl ander op ’n droë dag gebot het. Ons sien dit in van die Panorama Goldens waar sekere blokke baie goed lyk en ander effe deurmekaar is.

“Buiten hierdie effense terugslag lyk die tekens belowend. Ons het vir die eerste keer in ’n lang tyd genoeg water, ons het genoeg koue gehad deur die winter en dit wil lyk asof ons ryp vrygespring het. Hoewel daar nog baie is wat moet gebeur, lyk die dinge tans dus gunstig. Hael bly natuurlik ’n groot risiko en buiten dit moet ons seker maak die bye doen hul werk.”

Mnr. Riaan Strydom van Bokmakierie-boerdery in die Langkloof meen dit is ’n goeie blomjaar by hulle. “Hier by ons het die vroeër vrugte effense laatrypskade opgedoen, maar dit is meer die pere as die appels. Dit is ook nie so baie skade dat ons bekommerd is nie. Ons appels bot tans baie goed. Ons is versigtig-optimisties.”

Strydom sê dat 90% van die boere in die Langkloof genoeg water het vir die seisoen wat voorlê. 

“Daar is nog ’n handjie vol boere wat sukkel en die buurmanne maak planne om te help. Die Langkloof kan darem nog goeie reën kry in Oktober en November. Ons hou duim vas daarvoor.”