Abundant Robotics, ’n maatskappy wat reeds vakuumtegnologie saam met kameras inspan om ’n appel op die optimale rypheid te oes en in ’n krat te plaas sonder om dit te kneus, stel binnekort die kommersiële weergawe van hierdie robot bekend.

Volgens mnr. Dan Steele, uitvoerende hoof van Abundant Robotics, het die eerste prototipe van hierdie masjien in 2016 die lig gesien. 

“Vanjaar is die eerste jaar dat ons die robotte inspan om kommersieel te oes, pleks van slegs kommersiële toetse te doen om verbeterings aan te bring. Ons wil uiteindelik ’n globale verskaffer van outomatisering wees in die appelbedryf en selfs ander bedrywe. Ons probleem is om ons kapasiteit uit te brei en groei vol te hou in die toekoms.

“Die terugvoer wat ons oor ons prysmeganismes van produsente kry, blyk gunstig te wees. Vir ons kan dit winsgewend wees, terwyl dit vir produsente lonend sal wees om die robotte te gebruik weens die tekort aan arbeid tans in veral die Amerikaanse landbousektor.”

Die grootste appelprodusent en -uitvoerder in Nieu-Seeland, T&G, het die afgelope seisoen die Abundant-robot getoets. T&G se houermaatskappy, Bay Wa, het reeds in 2017 in Abundant Robotics belê. 

Dit volg nadat die prototipe robot-oesmasjien wat deur die Universiteit van Sentraal-Queensland in Australië vir die oes van mango’s ontwikkel word, vroeër vanjaar die eerste keer mango’s in die Bungundarra-streek in Queensland geoes het. Dit was die eerste keer dat hierdie robot getoets is en dit het reeds ’n 75%-suksessyfer behaal. Besoek www.abundantrobotics.com en www.cqu.au vir nog inligting.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.