Vrugteboere in Limpopo is onlangs deur die departement van landbou, bosbou en visserye in kennis gestel dat die insek daar opgemerk is.

Mnr. Jan-Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die departement van landbou, het volgens ’n skrywe gewaarsku dat daar die afgelope tyd meer as 12 manlike vlieë op ’n slag in lokvalle op verskillende plekke in die provinsie gevang is.

Venter sê hoewel daar nie baie lokvalle in die provinsie se produksiegebiede geplaas was nie, is die voorkoms van die vlieë rede tot groot kommer, veral in die lig daarvan dat daar ook nege nuwe waarnemings in April in die Vrystaat was, hoofsaaklik in die produksiegebiede van Bethlehem en Ficksburg.

“Ons het ook die eerste vrugtevliegonderskepping in Nederland gehad op vrugte uit Limpopo,” het mnr. Andries Bester van Subtrop op ’n onlangse vergadering van die avokado-studiegroep aan boere van die distrik Tzaneen gesê.

Venter waarsku in sy skrywe dat die departement verwyderingspermitte van produsente sal moet herroep waar sulke besmettings voorkom as daar nie ’n drastiese poging van produsente af kom om regstellende maatreëls teen die verspreiding van hierdie vrugtevlieg in te stel nie, óf as produsente nie kan bewys dat hulle sulke beperkende maatreëls toegepas het tydens die produksieseisoen nie.

Maatreëls wat kan help, sluit gereelde aasbesproeiings, die vernietiging van manlike vlieë en behoorlike boordsanitasie in.

Bester het gesê hoewel avokado’s nie ’n gunstige gasheer vir Asiatiese vrugtevlieg is nie, is dit steeds ’n potensiële draer. As dit in Europa op vrugte onderskep gaan word, gaan dit vir Suid-Afrikaanse produsente probleme skep. Dit is dus noodsaaklik dat al die nodige stappe gedoen word om dit te voorkom.

Hy het gesê dat boere genoeg en goed verspreide lokvalle moet uitplaas en reeds voor en ná die plukseisoen aandag gee aan boordsanitasie.

Mnr. Pieter Buys, voorsitter van die mangokwekersvereniging Samga, het gesê die koue weer van die winter sal waarskynlik help om die vlieë se getalle af te bring. Mango’s is ’n beter gasheer vir die vlieg as avokado’s.

Hoewel die mangobome nog ver van blom of vrugvorming af is, het Buys gesê dit is ’n probleem en die bedryf is bekommerd oor hierdie nuwe plantplaag. “As die seisoen kom, sorg ons dat ons betyds ons lokvalle en aas uitplaas vir vrugtevlieë. Die Asiatiese vrugtevlieg is vinnig besig om ’n probleem te raak.”