Luidens ’n artikel in die Daily Mail Australia het die skeppers van die nuwe materiaal, me. Julia en mnr. Jordy Kay, voorheen as onderskeidelik argitek en wynmaker gewerk. Hulle wil deur hul maatskappy, Great Wrap, iets doen aan die groot hoeveelheid plastiekafval wat deur hul onderskeie bedrywe geskep word.

Die Kays is al die afgelope drie jaar in die bedryf werksaam. Van hul vorige produkte is reeds gesertifiseer as komposteerbaar in tipiese tuinkomposhope. Dit bevat egter poliensuur (PLA) en polibutileenadipaat- tereftalaat (PBAT).

“PLA is die eindproduk van redelik intensiewe landbouproduksie. Ons wou eerder produkte verskaf wat probleme oplos as om meer te skep. Daarom gebruik ons nou aartappelreste in ons nuwe formule vir tuiskomposteerbare kleefplastiek.”

Julia het aan Landbouweekblad gesê die aartappelreste is wat oorbly wanneer aartappelskyfies gemaak word. Dit word tans van Amerika ingevoer. “Om as komposteerbaar in Duitsland gesertifiseer te word, moet ’n produk binne 180 dae op ’n komposhoop in ’n tuin kan afbreek en geen gifstowwe agterlaat nie.”

Benewens dat dit komposteerbaar is, breek die nuwe materiaal ook nie in stuk-kies mikroplastiek op nie. Die produk behoort volgens hulle binne drie jaar af te breek as dit op ’n gewone munisipale vullishoop pleks van op ’n komposhoop beland.

Great Wrap word teen dieselfde prys verkoop as gewone kleefplastiek wat ’n petroleumbasis het.

Hulle waarsku egter dat die produk net in die mikrogolf gebruik kan word om kos teen ’n lae hitte en vir kort tye warm te maak. Dit smelt teen medium- of hoë temperature.

Die maatskappy lewer reeds omgewingsvriendelike kleefplastiek vir palette, en hoop om binnekort ’n produk wat uit aartappels gemaak word, op die mark te hê.

Volgens Julia beoog hulle om teen einde 2021 hul bedrywighede internasionaal uit te brei, ook na Suid-Afrika.