Mnr. Jan Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die departement van landbou, bosbou en visserye, sê hoewel daar nog nie skade by kommersiële avokadoboerderye aangemeld is nie, wil dit voorkom of avokadobome die enigste vrugteboomsoort in die land is wat ’n reproduktiewe gasheer is.

’n Reproduktiewe gasheer is ’n boomsoort wat nie ’n natuurlike weerstand het teen die kewer en die swam wat hy vrystel nie. Die kewer boor in die stam van die boom en stel ’n giftige swam vry wat die boom kan laat vrek. Die kewer lê eiers in die swamspore waarop die volwasse kewers en larwes later kan voed.

WEES WAAKSAAM

Mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, sê hulle is nog nie bewus van enige gevalle waar die stomkopkewer in avokadoboorde voorgekom het nie. “Die naaste aan die hoofproduksiegebied waar dit al voorgekom het, was waarskynlik in die metropolitaanse gebied van Polokwane.”

Hy sê kwekers is gevra om almal op die uitkyk te wees vir moontlike kewerskade. “Omdat daar ook ander stamboorders is as die stompkop- kewer, vra ons boere om te kyk waar daar skade aan bome is en monsters te verskaf vir ontleding. Ons werk saam met die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria om die kewer te probeer identifiseer.”

Ander kewers is nie so skadelik as die stomkopkewer nie omdat dit nie die gevaarlike swam afskei nie.

Tekens van die stompkopkewer se simbiotiese swam op ’n boomstam in George. FOTO's: EUGENE GUNNING

plaagbekamping

Die stompkopkewer het al groot skade aan avokadoboorde in Israel en Kalifornië aangerig. Daar was nog net dáár verslae oor skade, aangesien die kewer in sy natuurlike habitat nie ’n plaag is nie. Venter sê daarom is daar ook baie beperkte inligting oor hoe die plaag in verskillende klimaatstreke met ander plantegroei sal reageer. “Hoewel die kewer al by pekanneutbome by Jan Kempdorp opgemerk is, lyk dit of dié bome en makadamianeutbome nie-reproduktiewe gashere is. Dit is bome wat ’n natuurlike weerstand teen die kewer en sy simbiotiese swam het.”

Die voorkoms van die stompkopkewer is in November 2017 deur Fabi by die department aangemeld. ’n Stuurkomitee om die plaag te probeer bekamp, is deur die department saamgestel. Dit sluit belanghebbendes in soos Bosbou Suid-Afrika, die department van omgewingsake, Fabi en die kwekersverenigings vir avokado’s, makadamias en pekanneute.

“Geen insek- of swamdoder is al geregistreer teen die plaag nie, hoewel verskeie aansoeke om noodregistrasie ingedien is,” sê Venter. “Die besmetting word eers opgemerk wanneer die kewer reeds in die stam of takke ingeboor het. Dit sal nie maklik wees om dit met ’n insek- of swamdoder te bekamp nie. “

’n Lokmiddel is in Kalifornië beskikbaar om vroeë waarneming moontlik te maak en die avokadobedryf daar het ook reeds ’n verkenning-en-lokvalstelsel gereed.”

Volgens Donkin is daar plaaslik nog nie ’n verkenning- en-lokvalstelsel in werking nie en word daar op boere se waarneming staatgemaak.

TAAKSPAN

Die Stad Kaapstad het ’n taak-span aangestel om die besmette bome, wat deur tuiniers ontdek is, te verwyder, nadat kenners van die Universiteit Stellenbosch se departement bewarings- ekologie en entomologie bevestig het die bome is met die stompkopkewer besmet.

Buiten Somerset-Wes het dit ook al onder meer van Pietermaritzburg tot in Durban en langs die Noord- en Suidkus voorgekom, asook in Knysna, George, Johannesburg en Vaalharts.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.