“Ons het almal maar gekla oor die lae pryse, maar as mens terugkyk na die seisoen en die somme maak, het ons tog ’n wins gemaak, ten spyte van die feit dat daar skielik 35% meer vrugte as verlede jaar op die mark beskikbaar was,” sê mnr. Edrean Ernst van Allesbeste Boerdery, naby Tzaneen.

Vir die eerste 18 tot 20 weke van die uitvoerseisoen is goeie pryse op die Europese mark behaal, maar daarna het lewering uit Suid-Afrika ’n hoogtepunt bereik met 800 000 tot 900 000 kartonhouers van 4 kg elk per week. Peru se uitvoerseisoen het terselfdertyd sy hoogtepunt bereik en dié land het 2,8 miljoen tot 3 miljoen kartonhouers per week gelewer.
“Die ooraanbod op die Europese mark het laer pryse tot gevolg gehad. Voorraad het begin opbou en moes noodgedwonge teen laer pryse verkoop word,” het mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, vroeër aan Landbouweekblad
gesê.

Mnr. Zac Bard van die Wêreld-avokadovereniging (WAO) het by die onlangse Subtrop-bemarkingsimposium op Witrivier vertel hoe kwekers in 1998 moes inbetaal op hul vrugte in Europa omdat die pryse wat hulle daar gekry het nie die verbouing- en verskepingskoste kon dra nie. “Dit was tot nou toe die norm,” sê Bard. “Die oomblik toe ons oes met meer as 20% gegroei het, het die situasie begin ontspoor.”

Bemarking betaal

Hoe kon avokadokwekers dan steeds vanjaar 'n wins maak ten spyte van ’n 35% toename in vrugte op die wêreldmark? Dit word toegeskryf aan die WAO se bemarkingswerk. “Zac is baie beskeie, maar dit is die enigste logiese verduideliking vir die feit dat ons wins gemaak het, ondanks die groot aanbod,” sê Ernst. “Om alles te kroon het baie mense vanjaar avokado's gekoop wat dit vroeër nie sou koop nie omdat dit te duur was. Met die laer pryse het ons waarskynlik nou ’n hele aantal nuwe verbruikers in Europa gewerf.”

Bard het twee jaar gelede die gedagte van ’n internasionale bemarkingsliggaam vir avokado's by die Subtrop-simposium voorgelê. Kwekers was ten gunste daarvan en die WAO is op die been gebring. Hoewel die VSA se avokadoverbruik bestendig groei, het die Europese mark gestagneer en het die WAO gevolglik die afgelope twee jaar op dié mark gefokus.

Die bemarkingsveldtogte, wat sosiale media, ’n elektroniese resepteboek vir avokadogeregte, direkte bemarking by skoue en in winkels en promosies in gedrukte media insluit, het gesorg dat verbruik in Europa weer begin toeneem het.

Die WAO is aanvanklik net deur Suid-Afrika se avokadoprodusente ondersteun. Lidmaatskap het intussen gegroei en produsente van Tanzanië, Mosambiek, Zambië, Chile en Peru het nou ook by die organisasie aangesluit. “Israel moet nog net aansluit, dan verteenwoordig ons al die avokado-produserende lande ter wêreld,” sê Bard.

Na vanjaar se sukses op die Europese mark gaan die WAO nou ook fokus op Asië, merk hy op. “Ons gaan sekere dele van Europa ook volgende jaar van groter vrugte voorsien omdat lande soos Spanje en Portugal se verbruikers blykbaar eers avokado’s koop as die vrugte groter is.”

Suid-Afrika het reeds aansoek gedoen vir marktoegang vir sy avokado’s in die VSA en China.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.