Mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse avokadokwekersvereniging (SAAGA), sê die vraag op plaaslike markte was verbasend goed, selfs in die informele sektor waar avodadomaskers op varsproduktemarkte uitgedeel is om seker te maak straatsmouse vergeet nie van dié vrug nie.

SAAGA het sy bemarkingstrategie van byeenkomste en winkelpromosies af herlei na die wêreldwye web omdat al hoe meer verbruikers tyd op sosiale media deurgebring het tydens die staat van inperking. Dit het gesorg dat aanlyn verkope ook tydens die inperking toegeneem het onder verbruikers wat iets spesiaal gesoek het om by hul maaltye te voeg.

Donkin sê daar was baie interaksie met verbruikers op sosiale mediaplatforms tydens SAAGA se promosieveldtogte en hy skryf dit toe aan die goeie gehalte van avokado’s wat voortdurend deur invloedryke sosialemediapersoonlikhede beklemtoon is.

Hy sê die seisoen het op ’n hoë noot afgesluit wat vraag aanbetref. Boonop lyk die produksieseisoen wat voorlê, baie belowend. Verkope neem toe, blom in die boorde lyk goed en hoewel damvlakke nog nie in produksiestreke begin styg het nie, is daar talle nuwe boorde wat in produksie sal kom. Daarom, sê Donkin, werk SAAGA onverpoos om toegang tot nuwe uitvoermarkte te kry met Japan, China en Indië wat in die vereniging se visier is.