Dié Breedekloof-kelder het dit vanjaar gewen vir ’n gehoute Ruby Cabernet, ’n wyn wat ook in die kategorie vir ander rooi kultivars koning gekraai het.

badsberg jongwynskou
Badsberg se A-span: Mnre. Willie Burger, hoofbestuurde, Jaco Booysen, wynmaker, Henri Swiegers, produksiebestuurder, Jaco Botha, druifprodusent van die plaas Holland, en Stian Victor, assistent-wynmaker, met die gesogte Generaal Smuts-trofee wat hulle tydens vanjaar se SA Jongwynskou losgeslaan het. Foto: Verskaf deur Badsberg

Mnr. Willie Burger, keldermeester by Badsberg, sê hulle het amper nie deelgeneem aan die Jongwynskou nie weens die finansiële impak wat die Covid-19-inperking op die wynbedryf gehad het. Uiteindelik het hulle net ’n hand vol wyne ingeskryf – waaroor hulle nou baie bly is.

“Dit was oor die algemeen ’n baie goeie oesjaar wat gehalte betref. Ons was baie opgewonde oor die wyne, maar Covid-19 het dinge gedemp.”

Dit is maar die tweede keer sedert die SA Jongwynskou se ontstaan in 1833 dat ’n Ruby Cabernet dié eer te beurt val. Beoordelaars het laat blyk die Ruby Cabernet-inskrywings het hul “asems weggeslaan”.

‘So mooi wyn moet vate toe’

Burger sê hul spogwyn kom uit ’n klein wingerdblok met lae opbrengs. Dit behoort aan mnr. Jaco Botha van die plaas Holland.

“Ander jare versny ons dit saam met ander kultivars, maar vanjaar het ons besluit om dit apart te maak. Toe die wyn klaar is, het ons besluit so ’n mooi wyn moet vate toe!” vertel hy.

Hulle oorweeg nou om ’n spesiale bottelering van dié wyn, waarvan hulle 1 500 liter gemaak het, saam met die viering van die kelder se 70ste bestaansjaar volgende jaar beskikbaar te stel.

Badsberg het ook die gesogte Generaal Smuts-trofee in 2016 (vir ’n gehoute Pinotage) en in 2009 (vir ’n natuurlike soet witwyn) gewen.

“Dit beteken baie en dis ongelooflik hoe opgewonde mense oor die trofee is. Dit het behoorlik die produsente se moreel gelig in die onsekere tye. Dis ook belangrik vanuit ’n bemarkingsoogpunt, want die kopers neem kennis daarvan, veral as jy dit meer as een keer regkry.”

Burger sê hul kelderfilosofie is om die beste te maak van elke korrel wat hulle kry.

“Ons probeer die gemiddelde gehalte deurlopend verbeter.”

Twee deel Pietman Hugo-trofee

Die ander verrassing van die kompetisie was dat die Pietman Hugo-trofee vir die beste punte met vyf inskrywings, vanjaar deur twee kelders gedeel word. Robertson Wynmakery en Wellington Wyne het dieselfde getal punte ingesamel. Darling Cellars, Spier Wines en Wellington Wyne het boonop elkeen twee kampioenwyne opgelewer.

Covid-19 het nie net die gewone glansryke toekenningsgeleentheid in die wiele gery nie, maar daar is vanjaar ook minder wyne ingeskryf vir die SA Jongwynskou. Altesaam 40 het klaswenner-status behaal en 74 is met goue medaljes bekroon.

Die wyne is onder streng Covid-19-protokolle, wat osoon- en UV-sterlisering van bottels en glase ingesluit het, beoordeel. Volgens terugvoer vertoon die witwyne uit die 2020-oesjaar veral goed. Ongehoute Chenin blanc, verskillende Sauvignon blanc-style en veral Chardonnay (gehout en ongehout) het veral uitgestaan. Dit was ook nie ’n slegte oesjaar vir rooiwyne nie, met Merlot, Cabernet sauvignon, Pinotage en Shiraz wat uitgesonder word.