Luidens ’n verklaring het die Badsberg-wynkelder een platinum en twee goue toekennings ontvang op die toekenningsgeleentheid gisteraand in die Noop-restaurant in die Paarl.

Die platinum toekenning is toegeken aan die Badsberg Red Muscadel 2017 en die twee goue toekennings aan sy Red Muscadel 2008 (wat ook ’n goue medalje verwerf het in 2009) en Red Muscadel 2009.

“Badsberg Red Muscadel, een van ons vlagskipwyne, het in 2014 met die Muskadel SA-toekennings ’n platinum toekenning ontvang vir die Red Muscadel 2013. Dit is ’n groot eer om weer ’n platinum toekenning in te palm. Dit is verblydend dat ons nuwer en ouer oesjare so goed vertoon. Dit skep vir ons ’n goeie platform om vanaf te werk vir die toekoms,” sê mnr. Willie Burger, keldermeester by Badsberg-wynkelder.

Burger loof sy wynmakers, mnre. Henri Swiegers, Jaco Booysen en Stian Victor, asook hul druifprodusent, Wysersdrif-boerdery, vir hul toewyding en harde werk.

Die Mont Blois-wynlandgoed van Robertson is die enigste ander kelder wat vanjaar met ’n platinum toekenning vereer is. Slegs 330 kiste is van dié landgoed se wenwyn, die Mont Blois Pomphuis White Muscadel 2016, geproduseer.

Drie ander wyne uit die Robertson-wynvallei is beloon met goue medaljes. Bon Courage het goue toekennings vir sy Red Muscadel 2018 en White Muscadel 2018 ontvang. Montagu Wine & Spirits het goud losgeslaan vir sy White Muscadel (geen oesjaar). 

Inskrywings

“Soos wat gereeld in die media berig word, gaan die wynbedryf en die res van die landboubedryf gebuk onder ’n ernstige droogte. Ons is baie gelukkig met muskadel omdat dit een van die eerste druifsoorte is wat ryp word. Die hitte help dat die druiwe ’n goeie konsentrasie suiker opbou,” sê mnr. Henri Swiegers, voorsitter van Muskadel SA.

“Die oesgetalle was vanjaar kleiner, maar die gehalte hoog. Ons is baie tevrede met die gehalte inskrywings wat ons ontvang het,” sê Swiegers. 

Beoordelingsproses

Die wyne word blind geproe en volgens ’n welbeproefde puntestelsel beoordeel. Die uniekheid van die verpakking speel ook ’n rol in die puntetoekenning; dit kan selfs die verskil tussen ’n goue of platinum toekenning beteken. Die wenwyne kan in winkels uitgeken word aan die Muskadel SA-plakker op die bottel.

Die beoordelaars was vanjaar mnr. Dave Biggs (sameroeper), wynskrywer en stigterslid van die wynklub Wine-of-the-month, me. Cerina van Niekerk, wynmaker by die Klawer-wynkelder, mnr. Altus le Roux, direkteur by Coastal Wine Exports, mnr. Jaco Potgieter van DGB en me. Nerina Cloete, wynmaker by die Blaauwklippen-wynlandgoed.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.