Mnr. Mark Hassenkamp, direkteur van die kwekery Red Sun Hortitech, sê vanweë dié groei is dit te verstane dat makadamiaboere tot nou toe net op die “hier en nou” gekonsentreer het.

“Namate die mark ontwikkel en die produksievolumes toeneem, gaan spesifieke vereistes wat die gehalte en gradering van neute betref, ’n bepalende invloed op die bedryf hê,” sê Hassenkamp.

Mnr. Alex Whyte van die maatskappy Green Farms Nut, een van Suid-Afrika se grootste verwerkers en uitvoerders van makadamianeute, sê markte se vraag het reeds begin verander. Daar is noemenswaardige verskuiwings in verbruikersvoorkeure in Amerika, Europa en China.

Die neutbedryf kry dit in hierdie stadium nog reg om die basiese markbeginsels vry te spring, veral makadamianeute waarvan die produksie en die vraag gelyktydig toeneem. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan bevolkingsgroei en veranderinge in opvattings oor gesonde en etiese eetpatrone. Asië soek al hoe groter neute, terwyl voedselvervaardigers al hoe meer gekapte neute soek, sê Whyte.

Beplan vooruit

Hy en Hassenkamp waarsku dat makadamiakwekers moet besin oor hul aanplantings wat die bedryf oor die volgende twee dekades van neute moet voorsien.

Na raming is sowat 50% van die makadamiabome in Suid-Afrika van die kultivar 695, ook bekend as Beaumont. Hierdie kultivar is gewild omdat dit betreklik vinnig groei, maklik is om te kweek en goeie opbrengste lewer. Dit is egter geneig om kleiner neute te dra wat moeilik uitgekraak word. In hierdie stadium word 56% van die Suid-Afrikaanse oes jaarliks na China uitgevoer en die grootste deel daarvan is Beaumont-neute.

Hassenkamp sê 20% van die bome wat aangeplant word, is van die kultivar A4 wat bekend is vir ’n goeie, gesonde kernopbrengs en groter neute. ’n Verdere 20% van die aanplantings bestaan uit die kultivar 816. Die oorblywende 10% is ’n mengsel van 849, 814, 842 en ander kultivars.

Hoewel Suid-Afrika meer as die helfte van sy neute na China uitvoer, lewer die land net 27% van die wêreldproduksie. Daar is al hoe meer verslae wat aandui dat Chinese makadamiaproduksie oor die volgende paar jaar eksponensieel gaan groei. China gaan dus in staat wees om in ’n groot deel van sy eie vraag te voorsien.

Whyte sê dit het reeds vanjaar duidelik geword dat Chinese kopers nie meer so haastig is om neute aan te koop soos in die verlede nie. Hulle het boonop min belangstelling in kleiner, gedopte neute getoon.

Hy waarsku dat dit ’n fout sal wees om te dink die produksiepraktyke en kultivarkeuses wat die Suid-Afrikaans bedryf tot hier gekry het, oor 20 jaar steeds doeltreffend sal wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.