Australiese wynboere het in die 2014-’15-oesjaar $463 (R4 567) vir ’n ton wyndruiwe verdien. Verlede jaar was die gemiddelde druiweprys $664 (R6 549) per ton.

Suid-Afrikaanse druiweboere het in 2017 gemiddeld R3 550 per ton druiwe (op plaasvlak) verdien. Verlede jaar was die gemiddelde prys R5 004 per ton.

“Ons het besef ons sal die druiweprys net kan verhoog as ons sukses in ons uitvoermarkte behaal. Daar is ’n baie sterk verband tussen die twee. As ons uitvoer suksesvol is en ons ’n beter waarde kry vir dit wat ons produseer, vloei dit deur na ons druiweprodusente,” het mnr. Andreas Clark, uitvoerende hoof van Wine Australia, tydens Vinpro se inligtingsdag in Kaapstad gesê.

Die Australiese wynbedryf het van omtrent 2005 tot 2014 ’n moeilike tydperk beleef, sê Clark. Die bedryf se reputasie was wankelrig, die wisselkoers ongunstig en die internasionale ekonomie was in ’n krisis.

Andreas Clark
Mnr. Andreas Clark, uitvoerende hoof van Wine Australia, tydens Vinpro se inligtingsdag in Kaapstad. Foto: Verskaf

China en Amerika bring groei

“Ons het besluit om op ons heel beste gehalte te konsentreer en daardie storie aan die res van die wêreld te vertel. Ons voer meer as 60% van ons produksie uit. Daarom doen ons alles in ons vermoë om uitvoergeleenthede te ondersteun.”

Dié strategie was so suksesvol dat Australiese uitvoer na China die afgelope vyf jaar met ’n bykans sprokiesagtige 306% gegroei het. Dié mark is nou $1,2 miljard (R11,84 miljard) werd. Die gemiddelde waarde van uitvoerwyn het met 43% tot $3,74 (R36,89) per liter gestyg.

Hy sê hoewel Brittanje steeds hul belangrikste mark bly wat volume betref, en dit ’n waardevolle mark bly, konsentreer hulle nou “onbeskaamd” op China en Amerika om groei te bewerkstellig.

Regeringsondersteuning

“Ons is baie gelukkig, want daar is enorme ondersteuning van die regering se kant af. Dit vloei deur na handelsonderhandelinge.”

Vir elke $1 wat die bedryf aan navorsing en ontwikkeling bestee, gee die regering ook $1. Dit het die Australiese wynbedryf in staat gestel om sowat 180 navorsingsprojekte te begin.

“Ons het ’n visie vir 2030. Ons wil siektes en plae onder beheer hê, ons wil sien dat groot data ’n roetine-praktyk in die wingerd is en ons wil gehalte-druiwe produseer wat aangepas is by die klimaat.”

Saam met die tegniese vooruitgang belê hulle ook groot daarin om markinsae te kry en menslike hulpbronne te ontwikkel.

Die Australiërs het verlede jaar net minder as 1,7 miljoen ton druiwe geoes. Dit was te midde van verskeie klimaatsprobleme. Die land het meer as 146 000 ha onder wingerd.

Brande kry hul nie onder nie

Clark het ook verwys na die vernietigende bosbrande wat maande lank in verskeie state gewoed het.

“Die verwoesting was baie emosioneel vir ons, maar ons is veerkragtig. Ons is reeds besig om te herstel en ons sal hárd terugkom,” het hy gesê.

Die totale wingerdstand in die brandsones is minder as 1% van die totale wingerdoppervlak. Adelaide Hills is die swaarste getref. “Die grootste deel van die streek doen egter steeds sake.”

Clark het ook benadruk dat die bedryf al die afgelope paar jaar navorsing oor rookbesoedeling van druiwe doen. “Ons is dus toegerus om dit te hanteer en ons sal dit met mening takel.”