Daar is geen keer aan Bigbucks, ’n verbeterde Gala-mutasie uit die Corder Gala-kultivar. Dit is vandag waarskynlik die suksesvolste nuwe appelkultivar in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Waar daar in 2014 slegs 1 hektaar gevestig was, het dié syfer in Februarie 2020 reeds die kerf van 1 miljoen bome verbygesteek. Vandag word geraam dat daar sowat 1,7 miljoen bome in Suid-Afrika gevestig is, en die getal neem steeds toe.

Landbouweekblad het by mnr. Buks Nel, die vader van Bigbucks, gaan besoek aflê. Dié 80-jarige boorling van Ladismith in die Klein-Karoo het sy hele lewe aan appels en nuwe appelkultivars gewy. Benewens Bigbucks het hy twee ander nuwe mutasie-appelkultivars agter sy naam.

Dié kultivars is Fuji Royal – ’n volrooi mutasie van die bekende kultivar Fuji, en die ander een is bekend as Shortie, ook ’n volrooi Fuji-mutasie. Die naam Shortie kom van die feit dat dit geoes word van appelbome wat heelwat kleiner en laer is as normale appelbome.

Dit is dus geen wonder nie dat talle eerbewyse oor die jare aan hom oorhandig is, waaronder Landboukundige van die Jaar deur Landbouskrywers SA in 2019. Hy het baie jare lank by Two-a-Day op Grabouw ál sy aandag op appels toegespits.

Die afgelope sowat 20 jaar – wanneer die meeste mense ’n rustige aftrede geniet – is Nel verbonde aan die appelverspreider en -uitvoerder Tru-Cape. Hy is nog baie gesond vir iemand van sy ouderdom, en bring baie dae in appelboorde in die Boland deur, waar hy baie kilometers op ’n dag kan stap.

Mnr. Buks Nel het in 2011 die wynrooi appels in dié boom opgemerk
Hy beduie (BO)hoe groot die appels was wat hy aan die boom gesien het.

Appel wat uitstaan

Bigbucks is beslis een van die hoogtepunte in sy lewe. Hoewel Nel beskeie daaroor is, is dit duidelik hoe trots hy op hierdie pragtige, wynrooi appelmutasie is wat besig is om plaaslik en internasionaal die rekordboeke te herskryf.

Hy vertel 18 Januarie 2011 was ’n snikhete dag op die Oak Valley-landgoed by Elgin. Hy het oudergewoonte in Royal Gala-appelboorde gestap toe sy oog skielik op ’n pragtige, wynrooi appel val – ’n volle drie weke voordat dit die Galas se oestyd was.

“Die ‘Gala’ aan dié boom was wynrooi en groot tussen die ander byna-ryp appels in die omliggende bome. Wat ook dadelik my aandag getrek het, was dat dit geen groengeel strepies gehad het nie, ’n kenmerk van Royal Gala-appels.

Dié appel was totaal atipies van ’n normale Gala-appel.” Nel stap heelwat in appelboorde rond. Hy meen ’n mens kan die boorde só baie beter bekyk as vanuit ’n bakkie se venster.

Hy het ’n voorliefde vir veral die Nieu-See-landse kultivar Royal Gala, wat reeds sedert die 1970’s in Suid-Afrika aangeplant word. In 2000 het hy die OSH Reinecke-eerbewys van die Kaapse Pomologie-vereniging vir sy werk daaroor ontvang.

Hy was die mens wat feitlik manalleen die sagtevrugte- bedryf oortuig het dat Royal Gala ’n goeie potensiaal in Suid-Afrika het. Verskeie mutasies het al uit Royal Gala gekom, waaronder Royal Beaut en Corder Gala, en nou Flash Gala.

“Swak kleur en effense onstabiliteit was eienskappe wat Royal Gala en sy klone egter nog altyd ietwat teruggehou het, en die uitpakpersentasie het erg gewissel – van 5 tot 50.” Daarom kan jy jou Nel se verbasing indink daardie dag in 2011 toe hy op hierdie pragtige, wynrooi appel afkom.

“Ek het gedurende die winter van 2011 ’n paar lote van hierdie besonderse boom geneem en in ’n proefblok op Oak Valley geënt, sodat ek die volledige vordering daarvan in die lente kon dophou.”

Nel wys hoe ’n appelboom se bostam op ’n be- proefde onderstam geënt word.
’n Besonderse kenmerk van Bigbucks is dat die blare rooi are het (links), teenoor die groen are van ’n Corder Gala-blaar.

Uitsonderlike eienskappe

Van die eienskappe wat dadelik sy aandag getrek het, was dat die bloeisels heelwat donkerder was as dié van Royal Gala, die stingels van die vrugte was rooierig, en die jong vruggies was kort nadat dit gevorm het, al klaar rooi. Die blare het ook duidelike rooi are.

“Wat my veral opgewonde gemaak het, was dat al die vrugte dieselfde rooi gebly het. Daar was geen Gala-tipe vrugte tussenin wat teruggeval het na die bekende groengeel strepe nie. Dit het beteken die bome, asook die vrugte wat hulle gedra het, was eiesoortig en stabiel.

“Ek het besef dat hierdie appels nie te vroeg geoes moet word nie, maar toegelaat moet word om heeltemal ryp te word aan die boom. Daar moet in gedagte gehou word dat alle vrugte aan ’n appelboom nie gelyk ryp word en gepluk kan word nie.

“Rypheid moet bepaal word. Dikwels lyk ’n appel reeds ryp, maar is nog nie ryp genoeg om gepluk te word nie. Om net na die kleur te kyk, is beslis nie die regte rypheidsnorm nie.

’n Jodiumtoets word dikwels ’n paar weke voor rypheid gedoen om presies te bepaal watter vrugte eerste ryp en plukbaar gaan wees.” Gereelde jodiumtoetse is uiters belangrik vir Bigbucks, maar eintlik vir alle appels.

Pragtige wynrooi Bigbucks-appels, wat onder die handelsmerk Flash Gala wêreldwyd bemark word. Die indrukwekkende uitpakpersentasie wissel van 80 tot 90.
Die raklewe van Bigbucks is goed — dieselfde as dié van Royal Gala. Die vleis van ’n Bigbucks-appel is steeds uitstekend nadat dit al ’n paar maande in ’n koelkamer was.

Uitvoer na 20 lande

Nel was op die regte plek op die regte tyd. Daarom is besluit om die nuwe mutasie na hom te noem – Bigbucks, ’n vervorming van sy naam. Die gedagte was toe reeds dat boere wat dit gaan aanplant, goeie geld daaruit gaan maak, en die “bucks” rym ook mooi met Buks se naam.

Die eienaar van Bigbucks is Pink Vein Bpk., ’n maatskappy van Nel, mnre. Derek Corder (wat die mutasie Corder Gala ontdek het), en Anthony Rawbone-Viljoen, op wie se eiendom Bigbucks gevind is.

Bigbucks is die naam van die plantmateriaal, terwyl die vrugte wat aan die gehaltevereistes voldoen, onder die handelsmerk Flash Gala bemark word.

“Die gedagte was dat verbruikers die vrugte in ’n oogwink (flash) sou koop.” Dit is egter nie ’n eendagwonder nie. Volgens me. Tinneke van Zyl, ’n ontwikkelingsbestuurder by die plantverbeteringsinstelling Sapo-trust, word vrugte van Flash Gala reeds na meer as 20 lande uitgevoer.

Dit is reeds baie gewild in China, Maleisië en die res van die Verre Ooste. Dit word ook uitgevoer na Indië en die Midde-Oosterse lande, asook na heelwat Afrikalande.

Die uitpakpersentasie van 80 tot 90 is uitsonderlik vir enige appelkultivar, meen appelboere en -kenners. Daarom is die verwagting dat Flash Gala in die afsienbare toekoms nog gewilder gaan word by boere en verbruikers.

Mnr. Buks Nel met ’n paar Bigbucks-appels, die Gala-mutasie wat hy ontdek het. Die mutasie is besig om wêreldwyd opslae te maak met sy mooi voorkoms.

Bigbucks in ’n neutedop

- Eienaar: Pink Vein Bpk.

- Oorsprong: Mutasie uit Corder Gala

- Ontdek: Januarie 2011 op die Oak Valley-landgoed, Elgin

- Planttelersregte: Toegestaan op 21 Julie 2015

- Groeipatroon, blom en oes: Dieselfde as Royal Gala

- Kleur: Bloeiselrooi

- Vrugtekleur van volwasse appel: Helderwynrooi (80-100%) met geen groengeel strepe, wat baie stabiel is

- Blare: Pienkerig met ’n rooi middelrif

- Vrugstingel: Dieprooi

- Opberging: Dieselfde as Royal Gala Vruggrootte: Medium