As jy nie met ’n gesogte bloubessie boer nie, ’n bessie wat goeie grootte het en soet is nie, lewer jy aan ’n mark wat reeds oorvoorsien is.

Só glo mnr. Cort Brazelton, sakebestuurder van die Fall Creek-boerdery en -kwekery in Amerika, een van die vernaamste bloubessieprodusente ter wêreld. Op die onlangse Fruit Logistica Asia-konferensie het Cort gesê dat Asië slegs 8% van die wêreld se bloubessies verbruik.

“Tans eet elke Chinees ’n kwart van ’n bloubessie elke jaar. Daar is dus potensiaal vir groei, maar hierdie mark is gesofistikeerd en verkies groot bessies met ’n soet smaak en ferm tekstuur. Net soos in die res van die wêreld sal groei in hierdie mark al hoe meer na die teelmateriaal van private kwekers neig.”

Volgens Cort is in 2017 nagenoeg 700 000 ton bloubessies geproduseer waarvan ’n groot deel nie regtig in aanvraag is nie. Hy meen die tyd is verby dat ’n bemarker slegs moes opdaag met ’n houer vol bloubessies en verseker sou wees van ’n koper teen ’n goeie prys. Die geheim is om met die regte bloubessie die regte mark op die regte tyd te benader.

Volgens die Suid-Afrikaanse Bessieprodusente-organisasie (SABPO) se bedryfsoorsig vir 2018 was daar 1 548 ha bloubessies in Suid-Afrika. Dit het ’n opbrengs gelewer van 6 603 ton waarvan 5 536 ton uitgevoer is.

SABPO verwag dat hierdie aanplantings teen 2023 tot 3 169 ha sal toeneem. Kyk hier na die volledige onderhoud met Cort.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.