Op Vrydag 6 November het Ross Berries ’n skikkingsvoorstel van United Export aanvaar. In hierdie skikking het United Exports vereis dat Ross Berries gehoor gee aan ’n tussentydse ooreenkoms met betrekking tot die produksie en verkope van bloubessiekultivars onder United Export se beheer. Ross Berries het die skikking aanvaar met die voorwaarde dat die twee vraghouers vrygestel word wat United Exports deur die Europese doeane-owerheid op die Rotterdamhawe laat konfiskeer het. Die geraamde waarde van hierdie meer as 26 ton bloubessies is ongeveer R4 miljoen.

Volgens mnr. Willem van Heerden, regsverteenwoordiger van Ross Berries, het United Exports egter op Sondag 8 November nuwe voorwaardes tot die skikking gevoeg waartoe Ross Berries nie kon instem nie. “Hulle het aangedring daarop dat ons ons eie bloubessieplante in 2021 vernietig. Ons kan nie daartoe instem nie.”

Die sperdatum vir die vrystelling of vernietiging van die eerste vraghouer bloubessies waarop beslag gelê is, is môre (10 November). “Selfs al word die bessies vrygestel en nie vernietig nie, is dit reeds vir bykans ’n maand in verkoeling en die raklewe is beperk. Die kans is goed dat hierdie bessies nie meer in ’n goeie toestand is nie.”

Ross Berries gaan teen môre ’n dringende aansoek bring voor die hof en argumenteer dat hy daarop geregtig is om die bessies wat hy produseer het, self te verkoop. As die aansoek slaag, sal die bessies op die Rotterdamhawe vrygestel moet word, sê Van Heerden.