Vrugte wat danksy dié stelsel, Carrier XtendFresh, verskeep word, bly langer vars, aangesien etileenproduksie verminder of stopgesit word danksy die regulering van die vlakke van koolsuurgas en suurstof in die skeepshouer. Etileen word tydens die rypwordingsproses deur vrugte vrygestel.

Danksy die tegnnologie word die natuurlike rypwordingsproses vertraag, wat beteken die raklewe van die vrugte word verleng, terwyl varsheid en gehalte behou word. “Die voordele is veral belangrik vir delikate produkte, soos bloubessies, en is noodsaaklik om topgehalte-vrugte te vervoer,” sê mnr. Christian Quintela, logistieke direkteur van SanLucar.

Die maatskappy sal voortaan bloubessies na die Midde-Ooste verskeep danksy dié tegnologie. Quintela voeg by dat dit belangrik is om saam te werk met die voorste verskepings- en logistieke maatskappye, soos die Mediterranean Shipping Company (MSC), om die vernuwendste preserveringstegnologie te vind.

MSC het in 2018 altesaam 5 000 skeepsvraghouers met dié tegnologie aangekoop, die grootste aankope sedert dié tegnologie in 2013 bekend gestel is. SanLucar is ’n groot belanghebbende in die produksie van groente en vrugte vir die kleinhandelsektor wêreldwyd en het verskeie internasionale filiale – van Spanje tot Duitsland, Oostenryk, Tunisië, Suid-Afrika, Ecuador, die Benelux-lande en Doebai.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.