Mnr. Willem van Heerden, regsverteenwoordiger van Ross Berries, sê hulle het ook die reg om die res van die seisoen die bloubessies op hul plase te produseer, uit te voer en te verkoop deur enige agent van hul keuse.

“Ons is uiteraard verlig en dankbaar dat die twee vraghouers nou vrygestel is. Die groot oorwinning is egter dat ons vir die res van die seisoen ons bessies kan bemark soos en waar ons wil,” sê Van Heerden.

Die Europese doene-owerheid het op die vraghouers met Ross Berries se bloubessies beslag gelê nadat United Exports, eienaar van die OZblu-bloubessiekultivars, beweer het die bloubessies in die vraghouers het nie die nodige lisensie om uitgevoer te word nie en skend dus planttelersregte. Ross Berries het ’n dispuut verklaar en telkemale probeer om ’n skikking te bereik.

Geen bewyse

“Ons het die skikking bereik sonder dat United Exports bewyse kon lewer van wanpraktyke aan ons kant,” sê Van Heerden.

Volgens mnr. Jon Salters, uitvoerende hoof van United Exports, was hul klagte uit die staanspoor dat Ross Berries United Exports se intellektuele eiendom sonder toestemming of kontrakte gebruik. “Ons is baie bly dat hierdie skikking bereik is, want uiteindelik is ons intellektuele eiendom erken. Ross Berries voer hul bessies uit onder OZblu-kultivars se name en dit is die probleem. Ons het ’n tussentydse ooreenkoms aangegaan waarmee ons albei tevrede is. Hulle sal nie verder ons handelsmerke en kultivarname gebruik nie en dit is wat ons wou hê.”

Die skikking, wat op 17 November bereik is, bepaal dat Ross Berries alle tantième in ’n trustrekening sal inbetaal, sê Van Heerden. “Ons sal dan in April 2021 in arbitrasie gaan om te bepaal wat die skadevergoeding vir die beslagleggingstydperk behoort te wees en wat die lot is van die tantième-inkomste.

“Van die nege kultivars wat Ross Berries aangeplant het, kon United Exports die registrasie van slegs twee aan ons toon. Ons het albei kultivars gekoop voordat hulle geregistreer is. Ons weet dat ’n derde kultivar, waarvoor hulle geen bewyse kon lewer nie, ook geregistreer is. Vir die ander ses kultivars is daar geen bewyse van registrasie nie.”

Die kwessie van registrasie en die kontrakte waarvolgens hierdie twee maatskappye in die toekoms met mekaar sal sake doen, sal in die arbitrasieproses in Maart bepaal word.

Volgens Van Heerden het ’n aantal produsente wat deur United Exports gekontrakteer is, al met hom in verbinding getree weens hul ontevredenheid met hul kontrakte met United Exports.

Salters het aan Landbouweekblad bevestig dat hierdie skikking tussen United Exports en Ross Berries nie die kontrakte met ander produsente sal beïnvloed of verander nie. “Hierdie is ’n tussentydse ooreenkoms tussen United Exports en Ross Berries. Ons sal voor die begin van die volgende seisoen ’n permanente ooreenkoms aangaan.”