Ná 16 jaar waarin ZZ2 sy benadering van natuurboerdery gevolg het, het koolstofvlakke in die grond begin styg, die boerdery gebruik minder water en dien boonop minder stikstof toe — en dít met opbrengste wat verdubbel. 

By ZZ2, die reuse-vrugte-en-groente-onderneming met plase in onder meer Limpopo en die Wes-Kaap, het die afgelope byna twee dekades ’n nuwe verhouding tussen mense, die grond, grondlewe en plante ontstaan.

“Daar is ’n dimensie onder die grond wat ons nie gereeld sien nie en maklik afskeep. Ek noem dit die vierde dimensie. Die nuwe verhouding het ontstaan toe ons gedwing is om op te let en te kyk wat in die boorde gebeur,” het mnr. Hendrik Pohl, produksiebestuurder van ZZ2 se vrugteplase op Ceres, op Landbouweekblad se grondgesondheidsdag op Joostenbergvlakte gesê. 

Van die resultate van dié nuwe verhouding is dat die onderneming met minder water klaarkom sonder om die opbrengs te benadeel, slegs 15% van die stikstof toedien wat aanvanklik gegee is, en aansienlik meer koolstof in die grond meet as voorheen. 

Die swamme aan die wortels is vir mnr. Hendrik Pohl ’n teken van gesondheid. Elke organisme het sy plek in die stelsel. Foto: Lucille Botha

Kompos en dekgewasse

Hendrik sê hulle volg ’n stelsel wat ten volle geïntegreer is. Hulle kyk dus nie na ’n enkele legkaartstukkie nie, maar na die héle legkaart, wat bestaan uit ekonomiese, maatskaplike en produksievolhoubaarheid. Kompos, wat hulle self by Lumbri-kompos op Ceres maak, skop die hele stelsel aan die brand.

“Dis die ruggraat van ons hele plantvoedingsprogram.”Hulle pak jaarliks – gewoonlik net ná oestyd – 20 m³ kompos per hektaar op die bankies uit en bedek dit dan dadelik met strooi of houtkerfsels. Kompos word meganies in ’n band op die bankie of met die hand in ’n hopie om die sproeier geplaas – nie om die boom se stam nie. 

“Ons glo daaraan om die biologie te voed, maar ook om dit ’n huis te gee. Dink aan die kompos as kos vir ons grondlewe en die bedekking as ’n huis daarvoor.” In die boord is daar twee areas, die bankie en die werkry. Die ba

nkie is hoofsaaklik in skaduwee gehul en dit is daar waar hulle die kompos uitpak en bedek – spesifiek in die area waar hulle besproei. In die werkry plant hulle dekgewasse, hoofsaaklik swenkgras, as ’n boord gevestig word. 

“Ons nuwe gedagterigting gaan oor boordvloerbestuur. Ek glo dit is die weg van die toekoms. Sowat ’n derde van die strooi wat ons uitpak, kom uit die Swartland. Ons wil dit vervang deur eerder ’n derde self in die boord te produseer. Dis moeilik omdat daar skadu-areas is waar ons nie bewerk nie, maar ons sal iets hier moet kry wat werk en divers (soos gras en peulplante) is. Ons kan baie probleme in die boord oplos deur die regte dekgewas te kies,” sê hy. 

Hulle “speel tans rond” met ’n nuwe dekgewasstelsel wat meer divers is en moontlik jaarliks gesaai sal moet word. Wat chemiese bemesting betref, dien hulle wél nog stikstof toe – maar dit het oor die jare aansienlik afgeneem en vind slegs plaas waar hulle tekorte sien. “Stikstof is ’n probleem, want ons kompos en bedekking bevat nie baie stikstof nie. Dis moeilik om kompos te maak met meer as 1,5% stikstof.”

Kompos word jaarliks op die bankies uitgepak en dan dadelik met strooi of houtkerfsels bedek. Die kompos voed die grondbiologie, terwyl die bedekking die kompos beskerm. Foto: Lucille Botha

Grondvoorbereiding

Hendrik sê die boorde se grondgesondheid het sedert 2001 aansienlik verbeter. “Grondgesondheid verwys na die grond se vermoë om produktief gebruik te word sonder om toekomstige produktiwiteit, die ekostelsel of die omgewing te benadeel. Die benadering beklemtoon die integrasie van biologie saam met die chemiese en fisiese kenmerke van grondgehalte wat ’n invloed sal hê op die boerdery se winsgewendheid en op die omgewing. Dis ’n bekvol!”

Hy het ’n foto gewys van ’n profielgat, sowat 77 cm diep. Die voedingswortels is duidelik in die boonste deel van die grond, waar die kompos en bedekking neergesit is. Daar is egter ook ’n goeie wortelbedding sigbaar, wat mettertyd ontstaan het. “Dié boord is in 1996 geplant en was dus sowat vyf, ses jaar oud toe ons met die natuurboerderystelsel begin het. In ’n gewone situasie is daar net wortelontwikkeling tot sowat 40 cm diep, maar ons kry nou al heelwat dieper wortelgroei.”

Hul manier van grondvoorbereiding het op grond daarvan verander. Boorde word meganies voorberei tot op ’n diepte wat die grond dit toelaat – gewoonlik 800 mm tot 1 00 mm. Chemiese balansering vind plaas tot op die diepte wat meganies voorberei kan word. 

Voedingstowwe beskikbaar

Hendrik sê die voedingstowwe in sy grond is altyd beskikbaar danksy die biologiese stelsel wat dit beheer.“Die besluit of die plant stikstof wil hê of nie, lê nie meer by my nie. Die plant skei deur sy wortels boodskappe af dat hy stikstof nodig het en dat die mikro-organismes dit moet voorsien.”

Met die aanvang van die natuurboerderystelsel in 2001 het die boerdery 160 g tot 240 g suiwer stikstof per hektaar per groeityd toegedien. Dit lê nou op 40 kg per hektaar per groeityd, en ook net as ’n boord dit nodig het. 

“Ons evalueer die boorde en sal net in twee gevalle stikstof gee: as daar nie genoeg groei is uit ’n balansoogpunt nie en as daar probleme is met boomkleur.” Die fosfaatvlakke is gewoonlik goed, maar kalium was aanvanklik ’n struikelblok. 

“Organiese materiaal bevat gewoonlik baie kalium, en kalium en kalsium hou nie baie van mekaar in die grond wat opname betref nie. Aan die begin was ons besorg dat ons kaliumvlakke in die grond gaan styg met die organiese materiaal wat ons op die bankies neersit, maar dit het nie gebeur nie. Om die een of ander rede het die kaliumvlakke gedaal.” Hendrik meen dit stem ooreen met die opbrengs per hektaar wat die afgelope paar jaar volhoubaar toegeneem het. 

Danksy biologie en meganiese grondvoorbereidingsmetodes kon hulle ’n beter wortelbedding bewerkstellig. Foto: Lucille Botha

Beter opbrengste

Volgens Hendrik het die boerdery se gemiddelde Golden Delicious-oes in 2009 net onder 60 t/ha gestaan. Verlede jaar was die plaasgemiddelde 120 t/ha. 

“Die vrugte hou ook beter. Ons dien nog tot tien kalsiumspuite per groeityd toe (om bitterpit te voorkom), maar dis al wat ons doen. Ons kan dit korreleer met die hoeveelheid wortelgroei wat ons in die grond het. Kalsium word by die wortelpunte uit die grond opgeneem.

"Ons het baie wortelpunte en dus kan jy die somme maak – daar is meer plek om kalsium uit die grond op te neem. Die voordeel is dat ons nie ’n bitterpitprobleem het nie, selfs al word die vrugte laat in die seisoen – tot Januarie – oorsee bemark.”

Stresbuffer in grond

In 2001 was die koolstofpersentasie in die grond maar 0,4%. Teen 2006 was dit 2,5% en in 2015, die laaste keer toe hulle gemeet het, het dit gestyg tot 3,5%-4%.

“Dit gee ’n mens ’n idee van wat kan gebeur, maar dit het ons ’n groot deel van 16 aar gekos om by dié punt te kom.”Hulle spuit al vir 14 jaar nie meer teen bloedluis (Eriosoma lanigerum) in hul boorde nie. “Elke hond het vlooie. Die bloedluise is in die boorde, dis nie uitgewis nie, maar dit het nie ’n ekonomiese invloed sodat ons dit moet bekamp nie.” Ook die bekamping van myte (veral rooispinmyt en Bryobia) het afgeneem.

“In die afgelope, droë groeityd het ons sekere kultivars een keer bespuit, maar eintlik as veiligheidsmaatreël om aan uitvoerregulasies te voldoen. Uit ’n boomoogpunt was dit regtig nie nodig nie.” Danksy hul grond- en boomgesondheid, glo Hendrik hulle het ’n noodsaaklike stresbuffer in die grond geskep.

“Wat bedoel ons met ’n stresbuffer? Dis ’n groter wortelstelsel met meer suurstof en water in die grond, wat beteken die gewasse kan stres beter verduur. Ons kon die afgelope drie groeitye in die droogte met minder water oor die weg kom en steeds ’n goeie oes afhaal.”

Navrae: E-pos: info@zz2.co.za