Boerdery is in sy bloed en dis al beroep waarheen hy wou mik. Hy kon van kleins af in die familieboerdery ingroei, en vandag is dié boerdery só groot dat mnr. Dawie Rothmann (38) van Brits dit nie sonder sy skrander vrou, Christine, kan doen nie. Sy is die finansiële bestuurder en in beheer van voedselveiligheid. Terwyl hy al sy aandag aan die boerdery gee – daar word elke dag geplant en geoes – behartig sy die administrasie, wat strek van beplanning en aankope tot instandhouding en verkope.

Rothmann is as Noordwes se wenner ’n finalis in Toyota se nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie – die wenner word later vanjaar uit die provinsiale wenners aangewys. Dawie is die afgelope vier jaar alleen in beheer van die familie-onderneming M.A. Rothmann en Seuns se boerdery met groente, koring, sojabone, mielies (alles onder besproeiing), vee en wild by Brits.

Sy pa, Doeks, staan aan die hoof van die boerdery by Ghanzi in Botswana, waar hulle met aartappels, uie en ander groentegewasse, asook kommersiële vleisbeeste en skape boer. Die onderneming het ook sy eie kwekery om groenteplantjies aan die boerdery te voorsien, en ’n vervoersaak waarmee hy groente aan varsproduktemarkte en twee supermarkgroepe lewer.

Dawie is intensief betrokke by elke faset van die boerdery, al het hy bestuurders. Hy en Christine vergader twee keer per week met hul bestuurders en kantoorpersoneel om werk te bespreek en probleme op te los. Dis ál manier om seker te maak alles verloop oral klopdisselboom.

Die groenteboerdery is op 800 ha en maak 92% van die omset uit. Daar word beet, geelwortels, spinasie, kopkool, tamaties, groenrissies, uie, slaai en patats gekweek. Sojabone sorg vir 4%, koring vir 3% en mielies vir 1% van die omset. Die wildboerdery is ’n klein uitbreiding en sluit skaars wildsoorte in, soos swartwitpense, swart rooibokke en goue blouwildebeeste.

Beet, uie, tamaties, spinasie, wortels en kool is die grootste gewasse. “Brits het ’n gematigde klimaat en ons kan die meeste gewasse regdeur die jaar plant. Uie is die uitsondering omdat dit ’n wintergewas is. Tamaties en soetrissies is half-somergewasse en kan nie diep in die winter verbou word nie omdat dit doodryp. Die laaste aanplantings van tamaties en soetrissies is dus in Februarie.”

VINNIGE GROENTE-OMSET

Die boerdery behaal gemiddeld 2,5 oeste per oppervlakte per jaar. “Die lekkerte van groenteproduksie is dat dit ’n vinnige omset het. Party soorte kan al agt weke ná aanplanting geoes word.”

Groot hoeveelhede groente word daagliks aan die supermarkgroepe Pick n Pay en Freshmark (Shoprite en Checkers) in Johannesburg en Pretoria en die varsproduktemarkte in Pretoria en Johannesburg gelewer. Van daar gaan die groente na groot dele van Suid-Afrika.

Die groentegewasse se syfers lyk só: Beet is die grootste gewas en kan regdeur die jaar geplant word. Die boerdery verbou 150 ha beet per jaar en beplant elke twee weke ’n land om deurgaans beet te kan lewer. Dit word as bossies en voorafverpakte sakkies (1 kg, 3 kg, 5 kg en 10 kg) gelewer. Daagliks word gemiddeld 25 ton geoes. Die insetkoste beloop R60 000/ha.

Uie beslaan gemiddeld 80 ha. Die planttyd is weekliks van 25 Februarie tot 1 April. In spitsproduksietyd word 120 t/dag geoes. Die insetkoste is R80 000/ha. Tamaties word op 80 ha verbou en die planttyd is van Augustus tot Februarie; aanvanklik drieweekliks en teen die einde weekliks. In spitsproduksietyd beloop die oes 30 t/ha. Die insetkoste is R80 000/ha.

Spinasie beslaan 80 ha en word deur die jaar verbou. Elke twee weke word ’n land beplant. Die oes beloop 8 t/ha. Die insetkoste is R95 000/ha. Wortels word op 80 ha geplant en aanplanting vind regdeur die jaar drieweekliks plaas. Die oes beloop 45 t/ha. Die insetkoste is R80 000/ha.

Kool beslaan 120 ha en word weekliks deur die jaar aangeplant. Die oes is 30 t/ha. Die insetkoste is R70 000/ha. Soetrissies (in seisoen) beslaan 20 ha. Die oes beloop 8 t/ha. Die insetkoste is R58 000/ha. Patats (in seisoen) word op 20 ha geplant. Dan word 30 t/dag geoes. Die insetkoste is R50 000/ha. Slaai (in seisoen) word op 20 ha geplant. Die oes beloop 1,5 t/dag. Die insetkoste is R45 000/ha.

PRODUKTE GEOUDIT

Al die groente wat na die boerdery se twee pakhuise (een vir uie en een vir die res) geneem word, word eers op hul eie weegbrug geweeg om tred te hou met die produksie en bemarking. Met die uitsondering van die tamaties, beet, wortels, patats en uie word die groente met die hand geklas.

Vir tamaties is ’n nuwe, outomatiese Reemoon-dubbelbaan-klasseerder onlangs van China af ingevoer om die doeltreffendheid te verhoog. Dié stelsel klasseer elke tamatie volgens grootte, kleur en gewig. Outomatiese pakmasjiene word vir uie van sekere groottes gebruik. Die pakhuise word jaarliks deur die boerdery se groot klante geoudit ingevolge die veiligheidsriglyne van Global Gap en die HACCP-vereistes.

Vir beplanning en kontrolering is alle blokke in die landerye genommer. Sodoende word rekord gehou van elke blok wat geoes word. Daar is ses paklyne waar die groente gewas, geklasseer, lowwe afgesny en verpak word. Daarna word dit volgens die riglyne vir elke groentesoort óf teen kamertemperatuur óf in ’n koelkamer opgeberg totdat dit versend word.

Die boerdery het tien verkoelde vragmotors wat groente aflewer. Al die groente wat geoes is, word nog dieselfde dag versend. Lewerings aan die supermarkgroepe is volgens bestelling. Die res van die dag se oes word na die varsproduktemarkte geneem, om te verseker alles kom vars by hul bestemming aan. Surplusgroente word by die boerdery se padstal verkoop.

Die outomatiese tamatiesorteerder. Dit neem foto’s van elke tamatie, weeg dit en sorteer dit dan volgens grootte, kleur en gewig.
Uie is die boerdery se naasgrootste gewas. Sowat 80 ha van dié gewas word verbou. Weeklikse aanplantings word van 20 Februarie tot 1 April gedoen. Foto: verskaf
Die Rothmanns se dogter, Miyon, in ’n koolland. Hierdie gewas word, soos die ander, onder besproeiing verbou. Foto: verskaf

VOLUIT MET PRESISIEBOERDERY

In 2017 het M.A. Rothmann en Seuns begin om alle lande te klassifiseer en te karteer om seker te maak elke deel word volgens sy potensiaal ontgin. Die grond wissel van sandgrond tot rooigrond en turf. Agritech Innovations van Laeveld Agrochem het grondmonsters tot op ’n diepte van 1,2 meter geneem sodat die bo- en ondergrond ontleed kon word. Daarna is grondkaarte saamgestel.

Alles is op ’n rekenaarstelsel sodat Dawie akkurate besluite oor die diepte van bewerking en bemesting kan neem. Dit sluit in die aanvulling van tekorte en die toediening van kalk om die grond-pH op die gewenste vlak van 6,5 te hou. “Tegnologie kos nou wel baie geld, maar dit is die moete werd.” Christine voeg by: “Om te meet, is om te weet, en ons wíl weet.”

Besluite oor die hoeveelheid van elke plantvoedingstof geskied verder aan die hand van elke blok se opbrengsgeskiedenis en inligting oor elke gewas se onttrekking van voedingstowwe. “Ek kan nou uiters akkurate besluite neem oor bemesting voor aanplantings en tydens die gewasse se verskillende groeistadiums. Danksy die beskikbare inligting hoef ek net elke drie jaar grondontledings te doen,” sê Dawie.

Presisieboerdery verg ook die regte werktuie. “Ek en my pa het in 2014 die Nampo-oesdag by Bothaville bygewoon, kort nadat hael ál ons groente weggeslaan het. Daar het hy presisiewerktuie gekoop. Toe ek hom bekommerd vra hoe ons dit gaan betaal, het hy gesê: ‘Seun, moenie bekommerd wees nie.’ Vandag besef ek hoekom ons nie daarsonder kon voortboer nie.”

Hul presisiewerktuie sluit in ’n Amazone ZA-TS 4200 Hydro Profis-kunsmisstrooier, Monosem-12-ry-planter, John Deere-agtry- mielieplanter, Monosem-fynsaadplanters, ’n selfaangedrewe John Deere 4730-hoogloopgewasspuit, en ’n vloot John Deere-trekkers met RTK-PS-satellietstelsels.

DOELTREFFENDE WISSELBOU

Danksy al die akkurate inligting kan Dawie ingeligte besluite oor wisselbou neem, wat belangrik is om grondgedraagde siektes te bestuur. Hy beplan elke blok se wisselbouprogram reeds jare vooruit – watter gewasse mekaar opvolg en wanneer groente met ’n graan- of peulgewas afgewissel moet word. Hy plant gevolglik elke jaar 140 ha koring en 140 ha sojabone. Mielies word net verbou wanneer grond beskikbaar is. “Die wisselbouprogram werk lekker uit omdat ons so baie verskillende gewasse het.”

’n Voorbeeld is drie jaar koring en sojabone wat mekaar afwissel, gevolg deur drie jaar verskillende groentegewasse. Daarby word 10 ha lusern vir die vee en wild verbou. Dit word elke vyf jaar uitgeploeg. Intensiewe groenteverbouing kan nie soos grane en peulplante met geen- of verminderde bewerking geskied nie.

Sommige van die groentegewasse word van saad gekweek. Gevolglik is ’n baie fyn saadbedding vir die piepklein saadjies noodsaaklik, waarvoor grondbewerking gedoen moet word. Dus ploeg Dawie sy blokke elke twee jaar met ’n tandbewerking in die jare tussenin. Dan word ’n verhewe saadbedding gemaak, wat ’n fyn saadbedding vir goeie saadplasing en egalige spariëring verseker. Uie-, beet- en wortelsaad word met ’n lugdrukplanter geplant.

Kool, tamaties, soetrissies en spinasie word met plantjies gevestig wat in die boerdery se kwekery gekweek word. Patats word met ranke gekweek. Die meeste van die groente en ál die saaigewasse word met spilpunte besproei, terwyl verskuifbare sprinkelaars op uitvalstukke langs die spilpuntblokke aangewend word. Die tamaties en soetrissies is onder drupbesproeiing en kry ook bemesting deur die druppers.

Kool word met die hand bemes. “Ons gebruik koppies om presies die regte hoeveelheid kunsmis langs elke koolplant uit te gooi omdat korrelkunsmis wat breedwerpig uitgestrooi word, die koppe brand. Die res van die groente word met kunsmisstrooiers bemes.”

Die boerdery gebruik elektrisiteit van Eskom vir al sy behoeftes, maar wil in die toekoms sonpanele gebruik om die pakhuise te bedryf. Tans is daar kragopwekkers wat aanskakel wanneer beurtkrag voorkom. Die besproeiingswater kom uit die Hartbeespoortdam.

BLY WEG VAN SKULD

Die Rothmans boer sover moontlik op ’n kontantgrondslag. Hulle het geriewe vir maandrekeninge, maar probeer sover moontlik om alles weekliks te betaal. Die boerdery bekom slegs twee kleinerige oeslenings gedurende die winter en somer om kunsmis vir die graangewasse te koop.

Die inkomste uit die sojabone en koring word gebruik om die oeslenings te betaal. Dié twee gewasse word verseker. As hael (wat gereeld by Brits voorkom) hierdie oeste wegslaan, betaal die versekering uit en het hulle dus steeds ’n inkomste. Die groente word nie verseker nie omdat dit te veel kos. In Dawie se loopbaan van bykans 21 jaar het hael al agt keer ál die groente weggeslaan.

’n Voordeel van groente is die vinnige siklus. Die boerdery se omset het die afgelope drie jaar met 36,52% gestyg. Weens produkpryse wat ietwat laag bly, het die winsgrens egter staties gebly op 3,7%.

Christine skryf die groter omset toe aan goeie boerderymetodes en dat hulle op die hoogte van die jongste tegnologie bly. “Jy moet weet wat buite en om jou aangaan.” Die boerdery behaal die maksimum opbrengste, onder meer danksy kundige raadgewers, en het ’n afsetgebied vir alle produkklasse. “Ons verkies om ons produkte self te bemark.”

Goeie verhoudings word met alle klante gehandhaaf. “Ons bou uitstekende verhoudings met medewerkers, want ’n boerdery moet as ’n span funksioneer,” sê Dawie. ’n Fyn oog word op besparing gehou en enige onnodige uitgawes word besnoei.

Dawie in ’n mooi stand geelwortels. Hy verbou 80 ha van dié groentesoort per jaar en plant elke drie weke ’n nuwe land wortels.
Christine en Dawie Rothmann in die kantoor waar hulle met geslotebaan-televisie ’n ogie oor die pakhuise en werksaamhede elders op die terrein kan hou. Foto: VERSKAF
Met sulke uie kan ’n boer mos mark toe gaan. Uie is die boerdery se naasgrootste gewas en in spitstyd word 120 ton per dag geoes.

GROOT ARBEIDSMAG

Die boerdery is ’n groot werkverskaffer en het tans 472 heeltydse werkers. In druk tye word ook seisoenwerkers gebruik. Sowat 15% van die heeltydse werkers woon op die plaas en die res op omliggende dorpe.

Christine sê die boerdery gee baie om vir die gemeenskap en skenk gereeld groente aan tehuise vir bejaardes, kleuter-, laer- en hoërskole, kerke en die plaaslike gevangenis. Hul eie werkers kry gratis groente vir geleenthede, soos sport- en kerkbyeenkomste. Dawie neem ook studente in diens vir die praktiese deel van hul studie. Skole stuur leerders daarheen wanneer hulle op leierskampe is.

Die boerdery ruim tyd in vir besoeke van boereverenigings, studiegroepe en ander boere. Dawie tree as mentor vir opkomende boere op en het al gehelp met die skenking van saad en gif, asook met die verskaffing van kunsmis en masjinerie om lande voor te berei of te ontwikkel.

BEHEER INSETKOSTE

So ’n groot boerdery moet sy insetkoste deeglik beheer. Daarin slaag die Rothmanns danksy deeglike rekordhouding. Elke gewas en elke blok het sy eie legger waarin uitgawes en inkomste aangeteken word. Dit sluit insetkoste in – selfs produkte wat nie deur ’n klant of mark aanvaar word nie. Só kan elke aanplanting se winsgewendheid bereken word.

Elke voertuig, trekker en werktuig het ’n unieke nommer en legger. Die uitgawes vir onderhoud, herstelwerk, dieselgebruik en lisensiegeld aan ’n bepaalde voertuig of werktuig word daarin aangeteken. Dit gee dus betyds ’n aanduiding wanneer ’n werktuig té veel gaan kos en eerder met ’n nuwe vervang moet word, sê Christine.

Die boerdery het ’n beleid om elke jaar ou trekkers, vragmotors of werktuie te vervang. Herstelwerk en instandhouding word in hul eie werkswinkel gedoen. Dié sorgvuldige boekhouding vergemaklik die beplanning van aanplantings, en dui aan of dit kontant gedoen kan word en of ’n oeslening nodig is.

Die egpaar beheer ook insetkoste met hul eie vloot vragmotors waarmee hulle hul produkte aflewer, eerder as om iemand daarvoor te betaal. Dit skakel ’n middelman uit.

Diefstal is ’n groot probleem. Die stelery van groente en toerusting neem sulke groot afmetings aan dat Dawie wagte gebruik om dit te probeer hokslaan. ’n Kamerastelsel is ook geïnstalleer om ’n wakende oog oor sy werkers se veiligheid te hou, en elektriese heinings is opgerig.

JONG BOERE SE ROL

“Ons as jong boere speel ’n groot rol in voedselsekerheid, werkskepping en opleiding. Ons het ’n goeie aanvoeling vir nuwe tegnologie. Hierdie geslag jong boere het ook ’n belangrike taak ten opsigte van ons betrokkenheid by ander boere, en ons kan dit selfs vergroot. Ons werk is oor kleurgrense heen in diens van die landbou,” sê Dawie, wat lid van die plaaslike boerevereniging is.

Hy beklemtoon hy wil self graag ’n verskil maak en veral ander jong boere help om Suid-Afrika te bou. “As almal bereid is om hard te werk, sal dit baie vir die land se landbou beteken. Die landbou het ’n blink toekoms. Boere moet ophou om net probleme raak te sien en eerder met ’n optimistiese gesindheid na die geleenthede kyk en oplossings soek.”

LBW vra . . .

MNR. DAWIE ROTHMANN

WAT WAS JOU BESTE BOERDERY- BESLUIT NóG? 

Om in die waardeketting te belê. Kontrakte en standaarde waaraan ons moet voldoen, het ons gedwing om meer uit te brei en presisiebestuur toe te pas in alles wat ons in die pakhuise en op die lande doen.

WAT IS JOU GROOTSTE STRUIKELBLOKKE?

’n Gebrek aan mededingende prysstygings, asook toerusting, voertuie en gewasse wat snags gesteel en met bakkies en vragmotors weggery word. Beurtkrag die afgelope jaar het tot swakker opbrengste gelei omdat ons watersiklusse nie volgehou en voltooi kon word nie. Hael en storms is ook probleme.

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JY AL GEKRY HET?

My pa, Doeks, sê altyd: Jy moet nooit dink jy is te oud om iets nuuts by iemand te leer nie. Ook: Wees altyd bereid om jou kennis aan ander oor te dra. My ma, Fietjie, het my altyd herinner aan waar ek vandaan kom en om nederig te wees.

WAT IS DIE LEKKERSTE VAN GROENTEBOERDERY?

Om soggens vroeg, as die son net opkom, deur my lande te ry en te sien hoe wonderlik die natuur met sy groeifases is. Ook om te weet jy kan aan mense kos verskaf en aan baie mense en hul families in ons omgewing werk gee.

WAT IS DIE GROOTSTE FOUT WAT JY GEMAAK HET? 

Om ná graad 10 skool te verlaat en nie my kennis ná skool verder te verbreed nie. Ek wou net plaas toe kom om te boer.   

WATTER TEGNOLOGIE IS ONMISBAAR?

Presisiemetodes met behulp van Laeveld Agrochem en Agri Technovation om die regte gewasse op geskikte grond te plant en die nodige bewerkings te doen om die beste opbrengs te verseker. Met presisietoerusting kan ons die lande noukeurig bewerk. Stelsels vir voedselveiligheid sorg dat ons voldoen aan Global Gap- en HACCP- oudits, wat deur kettingwinkels vereis word. Watervogmeters op byna alle lande stel ons in staat om water te bespaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.