Ná deregulering in die laat 1990’s is nuwe nektarienkultivars wyd geëvalueer in Suid-Afrika. By die Unlimited Group in die Paarl het mense soos mnr. Hans Muylaert-Gelein, besturende direkteur van Fruits Unlimited, egter ’n heel ander koers ingeslaan. “Ons het besluit om op pruime te konsentreer. In daardie stadium was pruime, wel, net pruime. Ons het daarna gekyk en besef dit maak 80% van die uitvoervolumes van Suid-Afrikaanse steenvrugte uit. Waarom jaag almal dus nektariens en perskes na as dit eintlik ’n baie kleiner sakegeleentheid is?”

Suid-Afrika lewer tans sowat 15 miljoen kartonhouers (5 kg elk) steenvrugte, waarvan 12 miljoen (in ’n gewone jaar sonder droogtetoestande) pruime is. Van die ongeveer 5 000 ha pruimboorde wat tans in die grond is, behoort 600 ha aan die sowat 70 Unlimited-boere. Die doelwit is dat hulle uiteindelik 20% van die bedryf se aanplantings sal verteenwoordig. Tans sluit die produksiegebiede die Bergriviergebied, Tulbagh, Ceres, Robertson, Ladismith en die Kamanassie in.

Beter smaak, BemarkingstyE

“Vir ons gaan die pruimbedryf nog altyd oor twee goed: Om gapings in die bemarkingsprogram op te spoor en om pruime beter te laat smaak,” sê Muylaert-Gelein.

’n Voorbeeld van ’n kultivar wat die bemarkingstyd gunstig tref en help om die produksiejaar te verleng, is Flavor Fall. Dit raak later ryp (oestyd is eers teen Maart) en dit lewer heelwat groter, sappige vrugte met ’n goeie opbergingsvermoë.

Wat hul soektog na smaak betref, het Muylaert-Gelein-hulle aanvanklik net pruime aanvaar wat deurlopend ’n suikerinhoud van 10-11 °Brix het. Mettertyd het 14 °Brix hul minimum geraak en uiteindelik 16 °Brix – alles danksy beter teelmateriaal. “Nou kry ons gereeld in die laatseisoen pruime met ’n suikerinhoud van 18 °Brix tot 20 °Brix. Ons glo pruime kan ’n waardevat vol geur wees, want dis ’n heerlike vrug.”

Kaliforniese teelmateriaal

Hoewel Suid-Afrika se Landbounavorsingsraad destyds uitstekende pruimkultivars geteel het, het die programme weens ’n gebrek aan finansiering afgeneem. Muylaert-Gelein-hulle moes dus hul net wyer gooi om teelmateriaal te kry wat hulle in die voorste linie sou plaas. Dit het hulle reggekry danksy ’n vennootskap met Zaiger, ’n Kaliforniese teelprogram wat met meer as 250 000 konvensionele Prunus-kruisings tans die grootste in sy soort ter wêreld is. Custom Plum Company is hieruit gebore. Dit stel hulle in staat om weg te beweeg van die ou, tradisionele kultivars na ’n “heeltemal ander eetervaring”, sê mnr. Jannie Marais van Custom Plum Company.

Zaiger doen onder meer interspesie-kruisings tussen Japannese pruime (pruime soos ons dit ken) en Engelse pruime (wat in Suid-Afrika gewoonlik pruimedante genoem word), maar toenemend ook tussen pruime en appelkose. Ingewikkelder hibriede tussen pruime, appelkose en kersies, of selfs tussen pruime, appelkose, kersies en nektariens word ook geskep.

Muylaert-Gelein sê: “Jy het dus vervangingskultivars wat steeds soos ’n pruim lyk, maar die eienskappe, soos smaak, produksie en raklewe, is veel beter. Dan is daar ook weird and wonderful-goed, soos kersiepruime (miniatuurpruime wat geteel is uit pruime en kersies en bekend staan as Pixies), apriums (pruime wat baie soos ’n appelkoos is, maar heelwat sappiger en laat in die produksiejaar ryp word), swart appelkose en 'nectaplums' (’n kruising tussen nektariens en pruime). Dit val nie altyd in almal se smaak nie en is beslis nie hoofstroomprodukte nie, maar dit bied aan ons spesialiteitsmarkte. Ons kan verbruikers se belangstelling prikkel en aan supermarkte iets gee om hulle van die ander te onderskei. En natuurlik, dis pret!”

Fall Fiesta is een van die Zaiger-interspesiepruime wat groot belofte toon, veral danksy die suikerinhoud van 18 °Brix en meer.
Mnre. Hans Mylaert-Gelein (links) van Fruits Unlimited en Gerrit le Roux van Spreier- fontein in die Kamanassie in ’n Flavor Fall- boord. Die Kamanassie is ’n betreklik nuwe produksiegebied, maar die terroir is ideaal.

Só wen jy rakRUIMTE

Dis belangrik vir pruimboere en -uitvoerders om dié soort kaarte in hul mou te hê, want wêreldwyd is steenvrugte se rakruimte onder druk (veral weens die gewildheid van bessies). Buiten kersies bly steenvrugte se verbruik ook staties. “Ons moet van ons rakspasie terugwen. Ons glo die toekoms lê in ’n ryper produk, sodat jy ’n meer konsekwente eetervaring het. Avokado’s is ’n goeie voorbeeld van ’n produk wat maar klein was, tot dit deurlopend ryp aangebied is,” sê Muylaert-Gelein.

Boonop kan pruime op ’n baie goeie tyd in die mark geposisioneer word – wanneer ander Suid-Afrikaanse somervrugte, soos nektariens, druiwe, perskes en bessies, se lewering tot ’n einde kom en voor die wintervrugte die rakke tref. Hulle werk veral hard aan pluote (pruim- en-appelkoos-kruisings, maar met meer pruim as appelkoos in die kruising). Die vrugte het hope geur, dikwels rooi vleis en die skil kan rooi, swart of spikkelrig wees. Hulle wil dit tot ’n herkenbare produk in die duurder kategorie ontwikkel. “Ons glo as ons deurlopend beter kultivars gebruik, sal mense weer pruime begin koop.”

Dit beteken egter dat die ouer pruimkultivars waarskynlik sal verdwyn.

Hoe kies jy?

Om die regte kultivars vir hierdie doelwitte te selekteer, is ’n enorme taak. Uit 350 nuwe kultivars sal 260 glad nie die paal haal nie, 80 word geëvalueer en slegs 10 sal uiteindelik aangeplant word. Dit duur ongeveer 10 jaar om ’n kultivar te kommersialiseer. “As ons Kalifornië toe gaan, kyk ons heeltyd na kultivars wat eers oor tien jaar beskikbaar gaan wees. En op eie bodem werk ons met ons idees van tien jaar gelede. Dis soms nogal frustrerend, want wat ons nou weet, teenoor wat ons toe geweet het, is heeltemal anders!”

Een manier om gouer agter te kom hoe die splinternuwe kultivars hulle in die boord gedra, is om inligting met Europese en Kaliforniese boere wat dieselfde kultivars kweek, uit te ruil. “Só kan ons twee seisoene in een jaar hê en binne vyf jaar leer wat in Suid-Afrika tien jaar sou duur,” sê Muylaert-Gelein.

Marais sê hulle oorweeg ’n reeks kriteria wanneer hulle ’n nuwe kultivar ondersoek. “Ons dink eerstens aan die boer. Die kultivar moet goed dra en ’n goeie vruggrootte hê. Met ander woorde, daar moet potensiaal vir die boer wees om geld te maak.”

Hy sê net sowat ’n derde van steenvrugboere in Suid-Afrika is winsgewend, nog ’n derde speel gelyk, en die ander boer teen ’n verlies. “Uit die derde wat geld maak, is daar net 5% tot 10% wat regtig goeie geld maak. Boere moet dus die regte plantmateriaal plant om opbrengste van 5 000 tot 6 000 uitvoerkartonhouers per hektaar te oes sodat hulle kan voortbestaan.” (’n Groot gros pruimboere oes tans net sowat 2 000 uitvoerkartonhouers per hektaar.)

Eers as hierdie boksies afgemerk kan word, dink hulle aan verbruikersbehoeftes. Dan is hul eerste strategie om ’n beter standaardreeks te bied, met goeie smaak, geur en die vermoë om te kan “reis”. Muylaert-Gelein sê sekere neigings maak hul taak makliker, soos dat die Europese palet meer gebalanseerd is (en dus hou van ’n soet pruim, maar met ’n sekere suurvlak). Die Oos-Asiërs, Suid-Afrikaners en Engelse hou weer van baie soeter pruime.

Tydens die oestyd bied die maatskappy weekliks pruimproeë aan om terugvoer te kry oor watter kultivars potensiaal inhou. Hy stuur ook voorbeelde na bykans 50 supermarkte om hulle op die hoogte te hou van die “nuutste en beste” produkte.

Honey Punch is ’n besonder soet en sappige pruim. Dis ’n pluoot, wat beteken dis ’n kruising tussen ’n pruim en ’n appelkoos.
Flavor Blast, met sy rooi skil en geel vleis, is ’n voorbeeld van een van die gevorderde inter- spesiekultivars wat Zaiger ontwikkel het en die Custom Plum Company in Suid-Afrika versprei.

Produksievoordele

Wat die nuwe kultivars vir boere aantreklik maak, is die prestasie in die boord. Vrugteboere besef maar alte goed dat ’n nuwe aanplanting nie meer noodwendig 20 jaar en langer in die grond gaan staan nie. Daarvoor verander verbruikers se behoeftes net te vinnig. “Hoe klink produksie in die tweede jaar ná aanplanting? Baie van ons boere sê hulle het in Julie geplant en hul eerste oes, van sowat 10 t/ha, in die volgende Desember gepluk,” sê Marais. “Jy sal verbaas wees watter verskil dít aan jou kapitaalbesteding maak.”

Een van hul boere (oor wie Landbouweekblad al geskryf het), sê teen 3½ jaar speel hy gelyk met sy direkte produksiekoste. Hy maak sy somme om ses jaar tot sewe jaar lank (ná die gelykspeelpunt) geld te maak uit die aanplanting, en dan te herplant. Die nuwe kultivars word gewoonlik teen ’n hoër digtheid geplant (sowat 3 800 bome per hektaar, maar tot 4 500 bome per hektaar). Benewens die tegniese ondersteuning wat Custom Plum Company bied, is boere ook heel geneë om kennis uit te ruil, veral op boeredae, omdat hulle besef die hele bedryf vind daarby baat.

So ’n nuwe kultivar is natuurlik nie gratis nie, maar Muylaert-Gelein en Marais sê die heffingstruktuur is “akkommoderend” en die koste eintlik weglaatbaar as jy ’n omset van R500 000 tot R1 miljoen per hektaar in ag neem. Tipies geld ’n boomheffing van $1 (R14,20) per boom en ’n hektaarheffing wat in jaar drie intree. Vir Flavor Fall is dit byvoorbeeld $350/ha in jaar drie, $650/ha in jaar vier en $950 per hektaar vanaf jaar vyf. Dis een van die redes waarom Fruits Unlimited probeer om 10-20% meer as die gewone markprys vir die pruime te verdien.

“Ons is nie altyd suksesvol nie, want soms ís ons die mark, maar dan sal ons met Angelino vergelyk word. Waar ons goeie markgapings tref (soos met Flavour Fall), het ons gewoonlik meer prysmag, maar ons werklike prysmag is by die spesialiteitsprodukte. Ons probeer die hoë-inkomstemarkte ontsluit deur die programme te kry wat die beste betaal,” sê Muylaert-Gelein. 

Plaaslike mark kan groei

Dis nie net die buitelandse markte wat aantreklik is vir die pruimbedryf nie. Die plaaslike mark bied ook geleenthede. “Ons is gewoond daaraan om die afskeepvrugte te kry wat nie die uitvoermark haal nie. Daar is beslis plek vir herlewing in die Suid-Afrikaanse pruimmark, en die vraag en koopkrag is daar,” meen mnr. Jannie Marais.

Mnr. Hans Muylaert-Gelein sê die helfte van die nektariens wat in die land geproduseer word, word plaaslik geëet. Dieselfde geld egter vir net 10% van die pruime. “Daar is baie ruimte vir verbetering. Ons moet ophou om pruime as cheap and cheerful te bemark en eerder op gehalte konsentreer.”

Hulle reken die tydperk van middel Februarie tot middel April is ideaal vir pruime op die plaaslike mark, veral vir groter vrugte, wat Suid-Afrikaners verkies. Woolworths neem tans die voortou met die bekendstelling van hierdie smaakgedrewe kultivars, maar ander supermarkgroepe is vinnig besig om ook aan boord te kom.

Nuwe pruime bied keer op keer aan verbruikers ’n goeie eetervaring, wat sal help om dié steenvrugte se gewildheid ’n hupstoot te gee.
Houvermoë is ’n belangrike vereiste vir die nuwe kultivars. Hulle moet ’n paar weke lank na uitvoerbestemmings kan reis, en steeds ’n goeie eetervaring aan verbruikers bied.

’n Inter-wat?

’n Interspesiekultivar is ’n pruim wat uit ’n kruising van verskillende vrugtipes binne die Prunus-kategorie bestaan. Dit word met natuurlike bestuiwingstegnieke gedoen.

Nuwe markte, vroeë pruime STEL EISE

Suid-Afrika het ’n goeie reputasie as pruimprodusent in die Suidelike Halfrond. Hoewel Chili se produkusie waarskynlik dubbel so groot is, het hy nie die kultivaraanbod waarmee Suid-Afrika kan spog nie (verreweg die meeste Chileense pruime is Angelino). Die Chilene het egter toegang tot ’n groter verskeidenheid markte. Australië is die ander groot produserende land. Hy konsentreer hoofsaaklik op die Asiese markte, asook sy sterk plaaslike mark.

Sowat 80% van Suid-Afrika se pruime word na Engeland, die Europese Unie en die Midde-Ooste uitgevoer. ’n Kleiner hoeveelheid word ook in Kanada en Asië verkoop. Die Europeërs verkies Suid-Afrikaanse laat pruime omdat die gehalte en smaak dan beter is as dié van mededingers. “Ongelukkig het ons as ’n land opgehou om nuwe markte oop te stel. Die regering is so begaan oor transformasie en herverdeling, maar ek wens hy wil die koek groter maak deur lande soos China vir ons oop te maak. Ons het dit baie nodig as ons wil uitbrei,” sê mnr. Hans Muylaert-Gelein.

Hy is ook besorg oor vroeë en standaardkultivars se plek op die mark. Die maatskappy begin al in week 45 (begin November) pruime oes, en dit hou maklik aan tot in week 20 (middel Mei). “Die Noordelike Halfrond oes ook later in sy produksiejaar, en in daardie tydstip is die eetgehalte van die Noordelike Halfrond se vrugte goed. Ek is dus bekommerd oor ons pruimaanbod voor Kersfees.”

Hy sê vier uit elke vyf jaar vaar die mark vir laat pruime goed, terwyl die mark vir die middel van die oestyd miskien in twee uit elke vyf jaar “beter as verwag” is. “Laat pruime is dus ’n veiliger opsie, en aanplanting daarvan in Suid-Afrika het taamlik uitgebrei.” Hulle probeer wel om in die tyd voor Kersfees kersiepruime ’n hupstoot in die mark te gee. Dis ’n kleiner pruim, en danksy die kersie-gene smaak dit beter as ander vroeë pruime. Dit kan dus goed meeding.

Navrae: Web: www.cpcsouthafrica.co.za; 021 860 1800.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.