“Ons glo sport, soos wyn, verteenwoordig die nasionale Suid-Afrikaanse DNS,” sê mnr. Tim Hutchinson, uitvoerende voorsitter van DGB, wat die Boschendal-handelsmerk besit.

Hy hoop Boschendal se betrokkenheid sal help om die unieke Kaapse wynkultuur uit te bou. “Soos almal weet, moes die Suid-Afrikaanse wynbedryf die afgelope 15 maande groot kwessies trotseer. Met die internasionale belangstelling vir die Leeus-toer sal Suid-Afrikaanse wyne reg oor die wêreld deur DGB en Boschendal op die voorgrond geplaas word, wat ook die profiel van Handelsmerk Suid-Afrika sal verhoog.”

Benewens die beperkte vrystelling van verskeie Boschendal-wyne tydens die Leeus-toer, soos ’n magnumbottel (1,5 liter) Shiraz 2019 en ’n rooi versnit van Cabernet sauvignon en Merlot uit die 2017-oesjaar, sal Boschendal ook die wyn verskaf vir amptelike byeenkomste en sosiale geleenthede waarby die twee spanne betrokke sal wees.

Dit is vanjaar die 130ste herdenking van dié ikoniese rugbytoer. Die Leeus het in 1891 die eerste keer na Suid-Afrika getoer. Die toer vind sedertdien net elke 12 jaar in Suid-Afrika plaas.

“Vanjaar is histories, want die hindernisse wat die Covid-19-krisisse meegebring het, moes oorkom word om dit te laat gebeur. Alles dui daarop dat vanjaar se Leeu-toer een ??van die mededingendste reekse in die annale van wedywering tussen die Springbokke en die Leeus sal wees," sê Hutchinson.

DGB was ook prominent tydens die 1995-Wêreldbeker, toe die groep se Douglas Green-handelsmerk die amptelike wyn van die toernooi was. Bellingham was die wynborg toe Suid-Afrika die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2003 aangebied het.

Die toer sluit in agt wedstryde, onder meer drie toetse teen die Springbokke en die res teen provinsiale spanne, wat van 3 Julie tot 7 Augustus gespeel word. Die kragmetings vind in Kaapstad en Gauteng plaas en talle spesiale Covid-19-maatreëls sal gevolg word.