Sedert 2014 het wyn in 3 liter- en 5 liter-boksverpakkings (ook bekend as bag-in-box) veld gewen, terwyl die verkope van wyn in die tipiese glasbottels van 750 ml gedaal het.

Só het me. Yvette van der Merwe, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse wynbedryfsinligting en -stelsels (Sawis), op Vinpro se virtuele inligtingsdae vir die Kaapse suidkus-, Paarl- en Swartlandstreek gesê.

Die verkope van bokswyn het verlede jaar vir die eerste keer dié van wyn in glasbottels in Suid-Afrika verbygesteek.

Volgens mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, het die plaaslike verkope van wyn in glasbottels sedert 2014 met 23% gedaal. Daarteenoor het die verkope van 3 liter-boksverpakkings met 27% gestyg en dié van 5 liter-bokse met 33%.

Van der Merwe het gesê verbruikers het veral tydens die beperkings op drankverkope as deel van Covid-19-inperkingsmaatreëls groter verpakkings verkies.

“Vanuit ’n verbruikersperspektief het die bokswynverpakking veral verlede jaar, toe alkohol slegs van Maandae tot Donderdae verkoop kon word, ’n gerieflike formaat gebied. Ons het dus gesien dit neem tydens verlede jaar se verbodtydperke toe.”

Woolworths het ’n reeks tophandelsmerke, soos Kleine Zalze, Beyerskloof en Diemersdal, oortuig om vir dié kleinhandelaar wyn in 3 liter-bokse te verpak.

Fleur du Cap en Zonnebloem is nog twee van die hoëwaarde-wynhandelsmerke wat produkte in boksverpakkings bekend gestel het. Van die redes wat hulle vir dié stap aangevoer het, is dat dit aan verbruikers wyn teen billike pryse bied en dat die inhoud langer vars bly – tot vier weke in die yskas. Bokswyn “reis” ook makliker na plekke waar die gebruik van glas problematies is.

Volgens die jongste syfers het wyn in plastiekverpakkings met 57% gedaal.

Wyn in blikkies kon nog nie juis Suid-Afrikaanse verbruikers se aandag trek nie, hoewel dit oorsee in gewildheid toeneem.

Van der Merwe het gesê blikverpakkings is tans slegs ’n klein nismark op plaaslike wynrakke. “Ons sal moet sien of dit ’n gier is wat gaan oorwaai, en of dit hier is om te bly en in volume gaan styg.

“Tans lyk dit egter nie na ’n groot neiging wat onder verbruikers posvat nie.”

Conradie het wynkelders gewaarsku om mooi te dink oor die verpakking waarin hulle wyn verkoop, veral omdat die bedryf se voorraadvlakke tans hoog is en daar gewoeker sal moet word om meer wyn te verkoop.