Boland Kelder van die Paarl is een van die grootste produsentewynkelders in Suid-Afrika.

Die projek is in Februarie bekend gestel om bewusmaking oor die behoud van heuningbye te skep en om geld in te samel om bykomende inheemse bome te kan aanplant.

Die projek is sover vasgestel kan word die eerste in sy soort ter wêreld deur ’n wynkelder waar die klem val op die aanplant van bome wat as voedselbron vir heuningbye kan dien. Die projek word bedryf met die samewerking van The Bee Effect, ’n organisasie wat die bewaring van bye ten doel het.

Boland Kelder het die inisiatief met ’n skenking van R100 000 begin om vanjaar altesaam 800 bome by Platbos aan te plant. ’n Persentasie van die verkope van alle handelsmerke in sy stal (nie net sy nuwe Melita-wyne nie) sal voortaan afgestaan word om die aanplant van nóg bome te finansier.

Die Melita-wynreeks bestaan uit ’n Chenin Blanc en ’n Pinotage, albei met ’n lae alkoholinhoud. Die naam verwys na ’n god in die Griekse mitologie, die beskermer van bye en heuningmakery. Daar is nie net ’n heuningby op die wyne se etikette nie, maar ook plante waarop dié insekte in Suid-Afrika voed. Die inisiatief word deur ’n spesiale The Bee Effect-logo op die wynbottels onderskryf.

“Die moderne vrouenaam Melita beteken heuningsoet, en het ook sy wortels in Grieks,” vertel me. Anneen du Toit, nasionale verkoopsbestuurder van Boland Kelder.

Du Toit sê sover bekend is daar net een ander wynkelder, in Duitsland, wat ’n projek het om byebewaring te ondersteun deur saad van byevriendelike plante saam met sy wyne te verkoop.

Die bome van die Bome vir Bye-projek word aangeplant deur Greenpop, ’n organisasie sonder winsbejag wat ten doel het om ekostelsels te herstel, mense te help om verantwoordelikheid vir die omgewing te aanvaar, stedelike gebiede te vergroen en volhoubare ontwikkeling te bevorder.

Dit het sedert 2010 danksy finansiering van die publiek en maatskappye reeds meer as 115 000 bome help aanplant. Die bome is afkomstig van klein kwekerye in die omgewing waar die bome geplant word.

“Bye se bydrae tot wynproduksie is minimaal. Vir ons gaan dit eerder oor die behoud van die groter voedselketting, waarin bye ’n belangrike rol speel,” sê Du Toit. “As ’n mens in ’n landbou-omgewing en naby die natuur werk, is jy baie bewus van hoe belangrik dit is om brose natuurbronne te beskerm.”

Me. Eve Puttergill, stigter van The Bee Effect, beskou ’n gebrek aan ’n verskeidenheid plantegroei waarvan bye kan lewe, as een van die grootste faktore wat druk op plaas- like byebevolkings plaas.

“In die volgende vyf jaar tot tien jaar moet ons eenvoudig die hoeveelheid bye vermeerder om seker te maak daar is genoeg vir ons en hulle om te eet. Dit is waar die boomplantprojek inkom. Eintlik gaan dit nie net oor die bye nie, maar ook oor skoenlappers en ander insekte wat van blomnektar leef.

“Ons wil graag boere en die groter wyn- bedryf nooi om betrokke te raak, asook diensverskaffers en maatskappye wat verwant is aan die bedryf,” sê Du Toit.

Nedbank het reeds sy ondersteuning aan die projek toegesê deur 100 bome per jaar in die volgende drie jaar te skenk.

“Die aanplant van bome ondersteun nie net bye nie, maar help ook met koolstofvaslegging en die rehabilitasie van wateropvangsbiede, wat belangrike biodiversiteitsgebiede is,” sê mnr. Daneel Rossouw, afdelingsbestuurder vir landbou van Nedbank Besigheidsbank.