Chardonnay uit Elgin. Cabernet sauvignon uit Stellenbosch. Hoe dan anders? Sekere dinge pas mos net bymekaar, meen die wynmaakspan by Boschendal in die Groot Drakenstein-vallei.

Daarom kry hulle druiwe vir hul gesogte Appellation Series uit uitgesoekte gebiede wat bekendheid verwerf het om een of ander kultivar.

“Ons hoofdoelwit is om die régte terroir te kies en die régte kultivar in daardie terroir uit te soek sodat ons so min as moontlik hoef in te gryp tydens die wynmaakproses om ware uitdrukking aan die wyn te gee,” sê Jacques Viljoen, rooiwynmaker by Boschendal.

Toe hulle dus besluit het om ’n Cabernet sauvignon by die Appellation Series te voeg, was Stellenbosch die aangewese plek om te gaan druiwe soek.

Dit is immers die bekendste wynstreek in Suid-Afrika en geniet reg oor die wêreld erkenning vir Cabernet sauvignon-wyn. “Dit sou mos ’n sonde gewees het as ons nie ’n Stellenbosch Cabernet sauvignon maak nie,” sê Jacques laggend.

Hy het baie tyd saam met Heinie Nel, wingerdboukundige by Boschendal, in die Helderberg-wyk bestee om druiwe uit te soek.

“Die Helderberg-terroir is ’n droom vir enige wynmaker wat goeie Cabernet sauvignon wil maak. Jy kan sommer sien hoe die druiwetrosse ontwikkel in hierdie ideale toestande.

Wanneer dit gepars word en jy met die vrugte en sap begin werk, oorrompel die ontwikkelende geure en aromas ’n mens met ’n Cabernet sauvignon-karakter wat slegs in dié deel van Stellenbosch gevind kan word,” sê hy.

Die Appellation Series het tot dusver bestaan uit Chardonnay (terloops, dié wyn het onlangs aan Boschendal die eer as produsent van die beste Suid-Afrikaanse witwyn besorg op die internasionale wynuitdaging), Sauvignon Blanc en Pinot Noir wat uit die koelklimaatwynstreek Elgin kom.

Die Appellation Series se jongste toevoeging: ’n Cabernet sauvignon gemaak van Stellenbosch-druiwe.

Spanpoging

Boschendal besit Highfield Vineyards in dié gebied en het ook kontrakte gesluit met boere in die omgewing om druiwe daar te koop. “Ons glo daaraan om terroir-gedrewe wyn te maak.

Elke kultivar het ’n unieke terroir waar dit die beste sal vaar. “Ons knoop verhoudings aan met boere en sluit langtermynkontrakte met hulle omdat tyd baie belangrik is in wingerdboupraktyke, asook sodat die boere kan agterkom wat ons verwagting is.

“Ons toegewyde wingerdboukundige help dat ons die beste gehalte druiwe uit dié kontrakte kry. Dit duur tyd om ’n wingerd te leer ken, daarom is die verhouding ook gegrond op wedersydse vertroue en spanwerk tussen my as wynmaker, die wingerdboukundige en die boer,” sê Jacques.

Proses

Die eerste Boschendal Stellenbosch Cabernet Sauvignon is pas bekend gestel en dateer uit die 2017-oesjaar – wat boonop deur baie as een van Stellenbosch se beste rooiwynoesjare beskou word.

Die druiwe word met die hand geoes en in verkoelde houers na Boschendal se kelder geneem. Die korrels word van die stingel gestroop en dan sorgvuldig gesorteer.

Dit gis 12 dae lank in vlekvryestaaltenke, waarna die wyn vir nog ’n maand op die doppe week voor die finale pars. “Dit rond die wyn af met helder vruggeure en volronde tanniene.”

Die wyn het daarna 15 tot 16 maande onder Jacques se wakende oog in 300 liter- Franse eikehoutvate deurgebring. “Ons het dit gereeld geproe om die ontwikkeling te monitor.

Toe ons die beste vate vir die samestelling van die finale versnit moes kies, het ons goed geweet wat die finale wyn sou vereis.

Die wyn in die bottel het ons almal se verwagtings oortref.” Hy sê daar is nie tans planne om nóg wyn tot die Appellation Series te voeg nie. “Maar as ons ’n uitsonderlike wingerd opspoor, is ons heeltemal bereid om dit by te voeg.”

Altesaam 17 000 liter van Boschendal Stellenbosch Cabernet Sauvignon is gemaak en dit verkoop teen R225 per bottel